On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 08:20 Thu, 19 Mar 2020

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Christal-Lize Muller met die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher...


Sien onderstaande PODCAST


Hy sê die koronavirus behels presies dit wat van ‘n virus verwag kan word. Dié virus infiltreer, toets weerbaarheid en waar moontlik het dit 'n vernietigende effek. Volgens Laubscher is daar al in gemeenskappe sogenaamde 'selfgemaakte virusse' uitgewys – die endemiese aard van korrupsie en die impak daarvan op die welvaart van ‘n gemeenskap of  'n land. Die Covid-19 virus is tot 'n pandemie verklaar en keer die wêreldorde om.  Hierdie veranderings gaan in vele opsigte onomkeerbaar wees en alhoewel dit fatale gevolge het en gaan hê, is dit moontlik goed dat die sogenaamde wêreldorde ‘n slag geskud word, want daar word té maklik pleisters geplak oor sosiale sere en selfs swere. Nou word doeltreffendheid getoets en ondanks vele aansprake ten opsigte van gereedheid, val baie betrokkenes uit die bus uit.  

Daar is lande wat geensins gerat is vir katastrofes van dié aard nie. Die afwesigheid van leierskap is veral opvallend om meer betyds die tekens te kon lees om vroegtydig en meer voorkomend op te tree. Laubscher meen die geskiedenis gaan die uiteindelike skeidsregter wees en lande soos Japan en Singapoer verdien die krediet wat hulle toekom. Die nadraai van die pandemie gaan nog baie helde oplewer, maar hopelik leer wêreldmoondhede meer daaruit as net om ‘n toestand soos hierdie die hoof te bied.   

Hy verwys na 'n artikel wat Martin Reeves geskryf het oor wat lande te doen staan nadat die koronavirus uitgewoed is. In die artikel word daar verwys na die Chinese wat eerste was ten opsigte van die hokslaan van die virus, en noudat dit skynbaar onder beheer is, maak dié land reg vir die lewe ná die virus. Reeves beweer daar is baie lesse om hieruit te leer, soos dat enige krisis baie dinamies ontvou, met die gevolg dat die beplanningsraamwerk en planne gedurig aangepas moet word.  Die klem val op vinnige aanpassings by veranderde omstandighede, welke aanpassings onder bekwame leiding moet gebeur. Die vraag is of genoeg van Suid-Afrika se leiers hierdie metodologie verstaan en dit kan toepas.

Behoorlike kommunikasie handel oor tydigheid en integriteit en is bedoel om pro-aktief te wees. Dié virus gaan tot gevolg hê dat daar besin moet word oor die mees doeltreffende manier van kommunikasie.  Reeves beweer dat die Chinese se vermoë om nie net te herstel van die impak van die virus nie, maar selfs nog beter te presteer as voor die virus, te wyte is aan die gebruik van sosiale media. 

Dit was die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, wat met OFM-nuus se Christal-Lize Muller gepraat het.


OFM-nuus






Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.