Agri Hour
#Koronavirus: Plaaslike rooivleisbedryf nog nie negatief geraak─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:42 Thu, 19 Mar 2020
Die koronavirus, waarvan daar in die stadium altesaam 116 bevestigde gevalle in Suid-Afrika is, het nog nie 'n negatiewe impak op die plaaslike rooivleisbedryf nie.
Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie, RPO, sê rooivleis verkoop goed met mense wat kosvoorraad ter voorbereiding van die verdere verspreiding van dié virus aankoop. Hy sê daar is ook nog geen negatiewe terugvoer ontvang ten opsigte van die uitvoer van plaaslike rooivleisprodukte na Suid-Afrika se handelsvennote nie. Volgens Schutte ondersteun die RPO die regering se voorkomingsmaatreëls om die verspreiding van dié virus te verhoed.
OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Schutte sê die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, het 'n tegniese komitee in 'n adviserende hoedanigheid saamgestel. Die RPO dien ook op die komitee.
Hy meen produsente kan 'n wesenlike rol speel om die verspreiding van die virus te bekamp en daar moet verantwoordelik opgetree word in dié verband. Dit behels die verbod op die samekoms van meer as 'n honderd mense en byeenkomste moet nie plaasvind as dit teenstrydig is met dié maatreëls wat in plek is om die siekte te isoleer of te beperk nie.
Die RPO het daarom besluit om geen vergadering, waar mense fisies teenwoordig moet wees, tot 15 Mei vanjaar te hou nie. Elektroniese vergaderings sal geskuduleer word. Dié besluit sal ná die Paasnaweek, op 10 April, heroorweeg word.
Dit was Gerhard Schutte uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie, RPO, wat met OFM-nuus se Christal-Lize Muller gepraat het.
OFM-nuus
