Agri Hour
Beeswinkel se aanlynveilings ál gewilder, veral onder Vrystaters─── CHRISTAL-LIZE MULLER 07:21 Thu, 02 Apr 2020
Die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo laat verlede jaar, nadat daar verlede jaar in Januarie ook 'n uitbreking in die Vhembe-distrik in dié provinsie aangemeld is, was 'n goeie leerskool vir die lewende hawe bedryf.
Petrus van Heerden, direkteur van die aanlynverhandelingsplatform, Beeswinkel, sê die bedryf het waardevolle lesse geleer uit die bek-en-klouseer situasie veral ten opsigte van die veilings van lewende hawe. Hy sê aanlynveilings was die antwoord tydens die tydelike nasionale moratorium op die samekoms van spleethoewige diere weens die uitbreking van bek-en-klouseer en is ook nou die oplossing met die nasionale staat van inperking in die regering se poging om die verspreiding van die Covid-19-virus te beperk. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Die tydelike moratorium, wat in plek gestel is deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, weens die bek-en-klouseer uitbreking onder beeste op kommersiële eiendomme, wat voerkrale insluit, is in Februarie vanjaar gelig. Dié moratorium het veilings en die tentoonstelling van spleethoewige diere geraak. Kort nadat die moratorium gelig is, het die nasionale inperking weens die koronavirus gevolg. Tradisionele veilings kan voortgaan, maar daar mag nie meer as 'n honderd mense by 'n veiling teenwoordig wees nie. Mense is ook skrikkerig om dié veilings by te woon uit vrees vir die verspreiding van die koronavirus. Van Heerden meen sedert Januarie vanjaar het verkopers en kopers se deelname aan Beeswinkel se aanlynveiling, wat weekliks op 'n Donderdag om 14:00 plaasvind, toegeneem.
Dit is veral produsente in die Vrystaat wat besef het dié platform is handig en verskaf nasionale marktoegang. Dit is ook kostedoeltreffend ten opsigte van die vervoer van diere en die diere wat aanlyn opgeveil word, kan goed nagespeur word.
Van Heerden moedig verkopers en kopers van lewendehawe aan om op Beeswinkel se webtuiste www.beeswinkel.co.za te registreer.
Hy sê Beeswinkel poog om later daaglikse aanlynveilings aan te bied, omdat dié platform in gewildheid toeneem, veral nou met die nasionale inperking weens die Covid-19-pandemie.
Dit was Petrus van Heerden, direkteur van die aanlynverhandelingsplatform, Beeswinkel, slegs op Before Dawn.
OFM-nuus
