Agri Hour
OFM Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 06:10 Tue, 07 Apr 2020
Mielies: In die Amerikaanse mark sal die fokus nou meer begin verskuif na die aanplantings wat reeds aan die gang is.
Die Amerikaanse Departement van landbou maak van hierdie week af die weeklikse produksie-vorderingsverslae bekend wat meer duidelikheid sal verskaf rakende die tempo van die Amerikaanse mielie-aanplantings.
Die plaaslike mieliemark het gister meestal ondersteuning gevind en het sterker verhandel vir die dag in meeste van die kontrakmaande van wit sowel as geelmielies wat tans gelys is.
Die wit- en geelmieliemark het gister vir lewering in Julie onderskeidelik R19/ton en R13/ton hoër gesluit. Die witmieliemark het teen R2 680/ton gesluit en die geelmieliemark teen R2 830/ton.
Sojabone:
In die VSA begin die sojaboon plantseisoen ook en dit sal ook 'n groot fokuspunt in die internasionale sojaboonmark wees oor die volgende paar weke.
Die stroopproses in Suid-Amerika duur voort en alhoewel die verwagte produksie vir die seisoen laer behoort te wees as wat aanvanklik verwag was, sal die Suid-Amerikaanse produksie vir die seisoen steeds goed wees, wat die internasionale pryse redelik onder druk hou.
Die plaaslike sojaboonmark het gister goeie ondersteuning gevind en het sterker verhandel vir die dag in meeste van die kontrakmaande wat tans gelys is.
Die plaaslike sojaboonmark het in gister se verhandelingsessie, vir lewering in Mei 2020, R100/ton hoër gesluit om teen R7125/ton te sluit vir die dag.
Koring:
In die internasionale koringmark is die grootste fokus tans op die Russiese mark, wat moontlike uitvoerbeperkings vir die seisoen beplan. Dit bied op die kort termyn ondersteuning aan die internasionale koringmark.
Die plaaslike koringmark het gister gemeng verhandel met die naby-maand kontrakte wat goeie ondersteuning gevind het, terwyl die verder-maand kontrakte meer sywaarts verhandel het vir die dag.
Die koringmark het in gister se verhandelingsessie vir lewering in Mei 2020 R62/ton hoër verhandel om teen R5 627/ton te sluit.
Dié Safex-markverslag op OFM se Agri-Uur is deur Graan SA (GSA) verskaf.
OFM-nuus
