On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 06:35 Thu, 09 Apr 2020

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Christal-Lize Muller met die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher.


Sien onderstaande PODCAST


Laubscher meen die Covid-19-pandemie kan Afrika moontlik anders raak, maar daar is 'n bestaande vraag oor beleid.  

Hy sê volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) sal Covid-19 se verspreiding in Afrika verskil van dié in die res van die wêreld. Redes daarvoor sluit in mense in Afrika is baie jonger as in die lande waar dié virussiekte se slagoffers eksponensieël toegeneem het. Die ouderdom van Afrika se sowat 1.3 miljard mense is gemiddeld 19,7 jaar teenoor dié van China en die Europese Unie (EU) wat onderskeidelik 38,4 en 43,1 jaar is.  Ondervinding het die kwesbaarheid van mense ouer as 60, wat nie gesond is of was nie, uitgewys. Dit is in die stadium onbekend tot watter mate die jeugdigheid van Afrika  se bevolking, weerstandigheid kan bevorder.

Daarteenoor is Afrika bekend vir die hoë voorkoms van ondervoeding, bloedarmoede, malaria en ander siektes, wat sterk korreleer met sosiaal-maatskaplike toestande in Afrika.  Dié toedrag van sake kan Afrika meer vatbaar maak. 

Die verhoogde voorkoms van malaria is in die vooruitsig gestel vanweë veranderende reënvalpatrone en die opvatting dat die meeste mense wat die virus mag opdoen eintlik sal herstel, kan erg misleidend wees.

Hy sê 'n verdere uitdaging is om mense in Afrika te laat afsien van die gewoonte van die samekoms van groot getalle mense, wat eie aan die kulture op dié vasteland is. Sosialisering van daardie omvang kan pogings om die verspreiding van die Covid-19 virus te beperk, in die wiele ry want fisiese afstand is ‘n belangrike voorkomingsmaatreël.

Bewyse van die verontagsaming van hierdie vereiste bestaan en lande moes nie slegs mense wat in opstand kom daaroor beheer nie, maar 'n land soos Tanzanië loop erg deur onder kritiek omdat daardie land aangedui het dat hulle nie aanbiddingsdienste gaan verbied nie.

Dit is verder, volgens Laubscher, 'n feit dat Afrika se vermoë om na besmette burgers om te sien en te behandel, uiters beperk is. Daar is gewoon nie genoeg hospitale beskikbaar en bestaande gesondheidsdienste kan in die meeste gevalle nie die gesondheidstatus van baie lande verbeter nie. Sou die pandemie die omvang aanneem van Europa en China, voorspel dit groot probleme. Daar bestaan reeds groot kommer in Suid-Afrika oor wat die ware toedrag van sake is.  

Suid-Afrika se hantering van die Covid-19-pandemie het baie tekortkominge uitgewys, waarvan te veel deur die mens veroorsaak is.  Hy sê juis nou, met beperkte fiskale vermoë, word die “geld gevolg”. Nie net om seker te maak dit beland op die regte plekke nie, maar belangriker dat die besteding die gewenste uitwerking het. Die meet hiervan kan besteding optimaliseer. Hierin lê daar baie lesse vir beleidhersiening ná dié virussiekte, sê hy. 

Dit was die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, slegs op OFM se Agri-uur. 


OFM-nuus






Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.