Agri Hour
Slegs regering kan SA uit ekonomiese verknorsing red - TLU SA─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:43 Thu, 09 Apr 2020
Die regering behoort, as hy eerlik is oor Suid-Afrika se toekoms, nou onomwonde te verklaar hy gaan sy beleid van "sosialisme en kommunisme" laat vaar.
Dit is nou tyd dat die regering opstaan vir private besitreg in 'n vrye markstelsel om sodoende stabiliteit in die land te verseker. Dit sal daartoe bydra dat beleggers Suid-Afrika as 'n veilige plek beskou om in te belê. Dit is volgens TLU SA se hoofbestuurder, Bennie van Zyl, wat meen indien daar nie 'n veranderde denkwyse deur die regering gaan wees nie, het Suid-Afrika nie 'n goeie kans om uit sy ekonomiese verknorsing uit op te staan nie. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Van Zyl gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê dit is nou nodig dat almal in die land positiewe druk op die regering plaas om sy "siek beleid" te laat vaar, want dit is juis hierdie beleid wat Suid-Afrika in die krisis gedompel het waarin hy homself nou bevind.
Volgens Van Zyl laat bespiegelinge oor die moontlike verlenging van die nasionale inperking oor 21 dae, wat volgende week tot 'n einde kom, die morele vraag ontstaan oor die gevolge van 'n moontlike verlenging te midde van die land se struikelende ekonomie.
Hy sê TLU SA is baie bekommerd daaroor en die leiers, wat oor 'n verlenging van dié tydperk moet besluit, moet dalk die morele vraag in ag neem of hulle mense 'n kans bied om aan die Covid-19-pandemie blootgestel te word, wat die potensiaal insluit dat sterftes kan voorkom wanneer dié inperkingsperiode verleng word. Aan die ander kant moet die besluitnemers hulself ook afvra of hulle gaan toelaat dat die land se ekonomie verwoes word deur 'n moontlike verlenging, wat tot hongersnood kan lei en mense se lewens kan eis.
"Dit is dalk 'n drastiese stelling, maar dit is ongelukkig die situasie waarin die land in die stadium verkeer," sê hy. Die regering moet volgens hom 'n gesonde balans nastreef en met die korrekte insette en kundigheid is dit moontlik om koppe bymekaar te sit in 'n poging om Suid-Afrika se ekonomie weer aan die gang te kry, sê hy.
Dit was Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, wat met OFM-nuus se Christal-Lize Muller gepraat het.
OFM-nuus
