Agri Hour
RPO Noord-Kaap stel jaarkongres na 2021 uit─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:08 Tue, 14 Apr 2020
Die Roovleisprodusente-organisasie, RPO, in die Noord-Kaap het sy jaarkongres, wat in Junie vanjaar sou plaasvind uitgestel na volgende jaar weens die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika.
Dié kongres is jaarliks 'n geleentheid om betrokkenes in die bedryf byeen te bring oor polsende kwessies, terwyl verskeie gassprekers inligting verskaf. Johan van der Colff, voorsitter van die RPO in dié provinsie, sê dié besluit is nie ligtelik deur bestuurslede geneem nie. Dié kongres vind nou volgende jaar in die eerste week van Junie plaas. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Van der Colff sê dié kongres, wat jaarliks 'n hoogtepunt op die rooivleisbedryf se kalender in die Noord-Kaap is, is bloot uitgestel, omdat dié organisasie nou reeds met voorbereiding daarvoor moes begin, terwyl daar onsekerheid is oor wat die nabye toekoms inhou met betrekking tot die koronavirus. Dié organisasie moet as deel van sy voorbereiding, gassprekers, verblyf, en onder meer etes reël, maar die onsekerheid rondom die Covid-19 het dié RPO-bestuur genoop om die kongres uit te stel. Sodoende word onnodige reëlings en voorbereiding uitgeskakel, sou die situasie rondom dié virus vererger.
Hy beklemtoon dit was nie 'n ligtelike besluit gewees nie, want dié kongres bied jaarliks 'n geleentheid aan kongresgangers om waardevolle inligting te bekom, maar daarmee saam maak die RPO in die Noord-Kaap se Grondwet voorsiening daarvoor dat 'n jaarkongres nie 'n jaarlikse 'n vereiste is nie. 'n Kongres kan tweejaarliks plaasvind.
Dié organisasie se jaarverslag sal wel aan sy lede deurgegee word, terwyl die finansiële verslag in die stadium ietwat van 'n uitdaging is.
Van der Colff sê daar is nog nie 'n defnitiewe besluit oor die RPO in dié provinsie se jaarlikse hoofbestuursvergadering geneem nie. Dié vergadering vind gewoonlik in dieselfde tydgleuf as die kongres plaas. Indien die Covid-19-pandemie en die situasie daar rondom dit toelaat, sal daar heel waarskynlik met dié vergadering voortgegaan word.
Volgens hom het die hoofbestuur van dié provinsiale organisasie dit al voorheen in oorweging gebring om met die jaarlikse kongres weg te doen, en dan op rooivleisdae te fokus. Dié inligtingsdae, wat in elk geval jaarliks vroeg in Maart in drie verskillende dorpe aangebied word, lok tussen 150 en 200 mense en daardeur word meer mense op grondvlak direk bereik. Dié rooivleisinligtingsdae sal dan plaasvind, terwyl die kongres tweejaarliks aangebied word.
Dit was Johan van der Colff, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie, RPO, in die Noord-Kaap. Skakel Woensdagoggend in op die Agri-uur vanaf 05:00 tot 06:00 wanneer Van der Colff praat oor nog uitdagings wat produsente in dié droogtegeteisterde provinsie in die gesig staar.
OFM-nuus
