On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agri Hour

#Covid19: Jagbedryf word swaar geraak

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 08:11 Tue, 14 Apr 2020

#Covid19: Jagbedryf word swaar geraak | News Article

Die nasionale inperking, wat nou verleng is tot die einde van April, het ‘n reuse-impak op die jagbedryf.


Fred Camphor, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging, sê die impak van die Covid-19-pandemie in die land is tweeledig. Die plaaslike bedryf word geraak deurdat buitelandse jagters nie meer na Suid-Afrika stroom nie. Die totale inkomste daarvan, wat  jaarliks sowat R2 miljard  beloop, word nou negatief geraak. Daarmee saam is daar ook 'n afname in binnelandse jagtogte. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Camphor gepraat....


Sien onderstaande PODCAST


Hy sê ten opsigte van internasionale jagters, wat nou nie meer na Suid-Afrika kan kom om te jag nie, gaan vir die res van die jaar voortduur.

Professionele plaaslike jagters bemark hul produk en jaggeleenthede in die buiteland jaarliks, tradisioneel in Januarie en Februarie.  Daarna besoek buitelandse jagters Suid-Afrika vanaf Maart, maar  weens die koronavirus,  wat internasionaal ook 'n merk laat en weens die Suid-Afrikaanse inperking, moes buitelandse jagters hul besoek aan Suid-Afrika noodgedwonge kanselleer.

Camphor sê die inkomstevloei met betrekking tot dié gedeelte van die plaaslike jagbedryf begin reeds in Maart, maar dit kan nie nou meer plaasvind nie. Buitelanders gaan nou hul jagtogte, wat gewoonlik tot in Augustus plaasgevind het, kanselleer.  

Binnelandse plaaslike jagters word ook geraak. Dit is jagters wat twee tot drie keer jaarliks gaan jag, grootliks vir vleisverbruik omdat wildsvleis 'n alternatiewe bron van proteïen is. Dit sluit trofeejag uit, sê hy. Dié jagters is ook nou ingeperk en kan nie meer in die  tradisionele jagmaande wat van Mei tot Augustus strek, gaan jag nie. Jagtogte kan egter deur die loop van die jaar plaasvind danksy sowat 10 000 "vrygestelde plase", waar daar enige tyd van die jaar op gejag kan word.  

Hy sê die nasionale inperking het ‘n impak op die ekonomie, want daar is nou meer werklose mense of diegene wat wel betaal word, maar wie se verlof in dié tydperk verminder word. Dit lei daartoe dat daar plaaslik minder jagters vanjaar gaan wees. "As 'n mens kyk na die totale omvang en waarde daarvan in ons ekonomie, dan is die somtotaal bydrae tot die ekonomie, wat die binnelandse of verbruiksjagters maak, in die omgewing van R8 miljard jaarliks." Weens die inperking gaan die helfte daarvan nou verlore, sê Camphor.

Daarmee saam is jagpermitte beskikbaar, maar omdat daar nie gereis kan word nie, lei die jagbedryf daaronder.

Vleisverwerking, asook die verwerking van velle en trofeë deur taksidermiste, asook vuurwapenhandelaars, wat nie patrone en klere kan verskaf nie, is aanverwante bedrywe wat ook geraak word.  

Camphor meen die getal diere wat gewoonlik jaarliks gejag sou word, kan met tot 'n derde en selfs met 50% afneem.


OFM-nuus


Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.