Agri Hour
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 11:37 Thu, 16 Apr 2020
Hierdie markverslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
In die nuutste weeklikse produksietoestande verslag wat deur die Amerikaanse Departement van Landbou beskikbaar gestel is, word gerapporteer dat 3% van die Amerikaanse mielie-aanplantings vir die seisoen tot dusver voltooi is. Dit is 1% minder as die 5 jaar gemiddelde aanplantingstempo teen hierdie tyd van die seisoen.
In die EU word gerapporteer dat hul mielie-invoer vir die seisoen tot datum 16% laer is as verlede seisoen se jaar tot datum mielie-invoer. Die totale jaar tot datum mielie-invoer vir die EU word op 16.3 miljoen ton gerapporteer.
Die plaaslike mieliemark het gister goeie ondersteuning gevind en het sterker verhandel vir die dag in meeste van die kontrakmaande van beide wit en geelmielies wat tans gelys is.
Die witmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R13/ton hoër verhandel vir die dag om teen R2 559/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R9/ton hoër verhandel om teen R2 737/ton te sluit.
Sojabone:
Die Amerikaanse sojaboonmark is steeds onder druk met die laer vraag na sojabone en sojaboon-produkte wat tans daar heers, asook 'n oorspoel-effek vanaf ander markte.
China is tans 'n groot aankoper van sojabone in die internasionale konteks en ontvang tans baie sojaboon-invoere. Die meeste van China se sojaboon-invoere vind vanuit Brasilië plaas.
Die plaaslike sojaboonmark het gister ondersteuning gevind en het sterker verhandel vir die dag in meeste van die kontrakmaande wat tans gelys is.
Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Mei 2020, R113/ton hoër verhandel vir die dag om teen R6 790/ton te sluit.
Koring:
In die nuutste weeklikse produksietoestande verslag wat deur die Amerikaanse Departement van Landbou bekend gemaak word, is gerapporteer dat 62% van die Amerikaanse winterkoring in 'n goeie tot uitstekende toestand is. Dit is beter as die 60% goed tot uitstekend van die vorige seisoen teen dieselfde tyd van die jaar.
Die EU se jaar tot datum sagtekoring uitvoer is 70% meer as die vorige seisoen se jaar tot datum uitvoer en die totale sagtekoring uitvoer vir die seisoen tot datum word op 26.7 miljoen ton gerapporteer.
Die plaaslike koringmark het gister gemeng verhandel met die naby maand kontrak wat onder druk gekom het en laer gesluit het vir die dag, terwyl die verder maand kontrakte ondersteuning gevind het en sterker verhandel het vir die dag.
Die plaaslike koringmark het gister vir lewering in Mei 2020, R39/ton hoër verhandel om teen R5 415/ton te sluit.
OFM-nuus
