On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:42 Thu, 16 Apr 2020

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Christal-Lize Muller met die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher.


Sien onderstaande PODCAST

Hy sê voedselwaardekettings is ‘n komplekse versameling van aktiwiteite, wat in baie opsigte nie die waardering kry wat verdien word nie. Daar is wel erkenning vir en dankbaarheid teenoor die landboubedryf omrede kos geproduseer word tydens die Covid-19-grendelstaat,  maar met die aanvanklike omskrywing van landbou as noodsaaklike diens, wat ononderbroke gelewer moet word, is belangrike onderdele van die waardekettings gewoon uitgelaat.

Behoeftiges se toegang tot varsprodukte is geblokkeer, want die informele sektor was  aanvanklik nie toegelaat om te verhandel nie. Dié verslapping is eers op 2 April toegestaan en hoewel daar steeds ontevredenheid is in sekere kringe, omdat net formeel geregistreerde informele handelaars toegelaat word om handel te dryf, het dié vergunning getoon op leemtes wat al aangespreek moes wees.

Volgens Laubscher word die  informele sektor erken as wesenlik en toon groei, maar daar is geen amptelike data beskikbaar oor die omvang van hierdie besigheid nie.  Hierdie is die sogenaamde vergete middelklas, maar vanweë die wyse waarop hulle handel dryf, is hulle uitgelewer aan onbehoorlike sakepraktyke. Dit verg nie baie verbeelding om te dink wat dit kan beteken as dié handelaars se besighede meer geformaliseer kan word by wyse van toegang tot behoorlike intydse prysinligting, en onder meer beter strukture nie. Bekostigbare toegang tot mobiele tegnologie kan hier ongekende vermenigvuldiger-impak hê.

Hy sê van dié informele bedryf waar toegang tot die verbruiker tot grondvlak moontlik gemaak word, tot die mees gesofistikeerde verskaffers in supermarkte, bly die produk wat die plaashek verlaat steeds die brandstof. Daarsonder kan bykans geen bedrywighede plaasvind nie, maar nog belangriker is die netwerk van goedere en dienste wat betrek word om die produk tot by die plaashek te bring.

Die feit dat landbou ononderbroke kan aangaan met kosvoorsiening in die grendeltyd, onderstreep die feit dat die sektor onlosmaaklik deel moet bly van enige ná-virus herskikking.

Dit was die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, wat met OFM-nuus se Christal-Lize Muller gepraat het.


OFM-nuus


Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.