Agri Hour
#Covid19: Wildsvleis kan skaars raak─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:51 Thu, 16 Apr 2020
Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging voorsien 'n tekort aan wildsvleis in die Suid-Afrikaanse mark weens die nasionale Covid-19-grendelstaat.
Fred Camphor, uitvoerende hoof van dié vereniging, sê daarmee saam gaan verbruikers wildsvleis, wat wel in die mark beskikbaar is, nie kan bekostig nie weens die ekonomiese impak van dié pandemie op verbruikers. Hy sê minder wild word nou gejag, bloot omdat daar 'n groot afname in binnelandse jagters is teenoor die situasie in vorige jare, ook weens die nasionale inperking. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Camphor is egter hoopvol dat die bedryf sy kop weer sal kan optel ondanks vleistekorte en die jagbedryf wat nou 'n vuishou toegedien word. Hy sê daar is 'n sekere hoeveelheid wildsvleis beskikbaar waar boere van hul wild uitdun sodat hul natuurlike veld kan herstel ná die droogte se impak, maar plaaslike jagters, wat twee tot drie keer jaarliks gaan jag grootliks vir vleisverbruik, het afgeneem.
Daarmee saam het die nasionale staat van inperking wat nou verleng is, na die einde van vandeesmaand 'n verdere impak deurdat buitelandse jagters nie meer na Suid-Afrika stroom vir trofeejag nie. Die toerisme- en gasvryheidsbedryf word ook daardeur geraak. Die totale geldelike inspuiting deur buitelandse jagters tot die Suid-Afrikaanse bedryf beloop jaarliks sowat R2 miljard.
Hy sê in die jagtersvereniging self, word skietbyeenkomste ook negatief geraak. Daar is in dié vereniging 81 takke oor die land heen waar lede aan skietkompetisies deur die loop van die jaar deelneem. Dié takke is nou egter versoek om nie voort te gaan met dié kompetisies nie, omdat daar 'n risiko is vir die verspreiding van die koronavirus. Volgens Camphor is dié skietkompetisie baie gewild en daar is gewoonlik op 'n Saterdag, wanneer dit plaasvind, op 80 skietbane oor die land heen altesaam 4000 lede wat deelneem. Daar kan meer as 'n honderd mense per tak opdaag.
"Die ekonomiese impak van Covid-19 is groter as wat ons besef."
Wanneer die nasionale inperking wel opgehef word sal Suid-Afrika steeds streng gesondheidsmaatreëls moet toepas. Dit sluit die gebruik van veiligheidstoerusting in. 'n Veilige sosiale afstand sal ook gehandhaaf moet word. Daar sal ook ten opsigte van dié vereniging se skietkompetisies besluite geneem moet word ten opsigte van die verlenging van die deelnametydperk of indien die Covid-19-situasie dit nie toelaat nie, sal dié kompetisies na volgende jaar uitgestel moet word.
OFM-nuus
