Agri Hour
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 08:38 Fri, 17 Apr 2020
Hierdie verslag is deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die weeklikse etanol produksie in die VSA is steeds in 'n afwaartse tendens met die lae vraag na etanol. Ten spyte van die lae weeklikse etanol-produksie is die voorraadvlakke tans teen nuwe hoogtepunte.
Die laer etanol-verbruik asook pryse plaas druk op die Amerikaanse mieliemark.
In die internasionale mieliemark bly Suid-Korea steeds 'n groot aankoper van mielies en het hulle in 'n private transaksie 210 000 ton se mielies vir invoerdoeleindes aangekoop.
Die plaaslike mieliemark het gister gemeng verhandel met die naby maand kontrak van witmielies wat hoër gesluit het terwyl die verder maand kontrakte, asook die geelmieliemark meestal onder druk gekom het en laer gesluit het vir die dag.
Die witmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R21/ton laer verhandel vir die dag om teen R2 573/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R29/ton laer verhandel om teen R2 710/ton te sluit.
Sojabone:
In die VSA het die verwerking van sojabone gedurende Maart die hoogste verwerkingsyfers nog vir dié maand bereik. Die verwerking in die VSA is reeds die afgelope paar maande hoog met die groot hoeveelheid sojabone wat daar beskikbaar is.
Die Amerikaanse sojaboon-aanplantings is aan die gang en die grootste fokus in die internasionale sojaboonmark vir die volgende paar weke sal op die Amerikaanse aanplantings wees.
Die plaaslike sojaboonmark het gister onder druk gekom en het laer verhandel vir die dag in meeste van die kontrakmaande wat tans gelys is.
Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Mei 2020, R18/ton laer verhandel vir die dag om teen R6 778/ton te sluit.
Koring:
Die Amerikaanse koringmark is meestal gemeng. Die winterkoring produksietoestande is relatief goed alhoewel daar in sommige gedeeltes bekommernisse in die mark is weens koue toestande.
Die sterk vraag na koring-invoer in die internasionale markte het die koringpryse in die Swartsee-streek ondersteun, met veral die Oekraïne se pryse wat goeie ondersteuning gevind het.
Die plaaslike koringmark het gister gemeng verhandel, maar het meestal sterker gesluit vir die dag in meeste van die kontrakmaande wat tans gelys is.
Die plaaslike koringmark het gister vir lewering in Mei 2020, R34/ton hoër verhandel om teen R5 436/ton te sluit.
OFM-nuus
