Agri Hour
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 06:05 Mon, 20 Apr 2020
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf
Mielies:
Die Amerikaanse mieliemark het Vrydag ondersteuning gevind en sterker vir die dag verhandel. Die mark, wat die afgelope tyd onder druk gekom het, het nuwe laagtepunte bereik en het winskoopvlakke bereik. Aankope in die Amerikaanse mark het die mark Vrydag ondersteun.
Suid-Korea is steeds 'n groot koper van mielies in die internasionale mark en het Vrydag weer sowat 68 500 ton mielies aangekoop in 'n private transaksie. Die mielies is vir lewering in Oktober 2020.
Die plaaslike mieliemark het Vrydag gemeng verhandel met die naby maandkontrakte wat onder druk gekom het en laer gesluit het vir die dag, terwyl die verder maand kontrakte ondersteuning gevind het en hoër gesluit het.
Die witmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R32/ton hoër verhandel m teen R2 598/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R24/ton hoër verhandel om teen R2 733/ton te sluit.
Sojabone:
Die Amerikaanse sojaboonmark het Vrydag onder druk gekom en het laer verhandel. Die mark is onder druk weens bekommernisse rakende die beperkte vraag na veevoer, asook die waarskynlikheid dat 'n laat plantseisoen produsente in Amerika kan noodsaak om van die beplande mielie-hektare kan omswaai na sojabone toe.
Private uitvoerders het Vrydag sojaboon-uitvoerverkope van bykans 120 000 ton aan die Amerikaanse Departement van Landbou gerapporteer. Dit is vir lewering aan onbekende bestemmings.
Die plaaslike sojaboonmark het Vrydag ondersteuning gevind en het sterker verhandel in meeste van die kontrakmaande, wat nou gelys is.
Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Mei 2020, R36/ton hoër verhandel vir die dag om teen R6 810/ton te sluit.
Koring:
Die Amerikaanse koringmark het Vrydag goeie ondersteuning gevind en het sterker verhandel nadat dit deur die loop van die week hoofsaaklik onder druk gekom het.
Die verwagting in die mark, dat die voorgestelde Russiese koringuitvoer eersdaags in werking kan tree, het aankope in die internasionale mark ondersteun. Dit het pryse weer ondersteun.
Die plaaslike koringmark het Vrydag ondersteuning gevind en het sterker verhandel in meeste van die kontrakmaande wat gelys is.
Die plaaslike koringmark het vir lewering in Mei 2020, R64/ton hoër verhandel om teen R5 500/ton te sluit.
OFM-nuus
