Agri Hour
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 07:00 Tue, 21 Apr 2020
Dié verslag is deur Graan SA (GSA) verskaf
Mielies:
Die laer energieprys hou steeds die Amerikaanse mieliemark onder druk sienende die verbruik vir etanol daartoe lei dat produksie skerp afgeneem het.
Die fokus vandeesweek sal op die Amerikaanse aanplantings wees en die verwagtinge is dat die aanplantings verlede week goed sou vorder met die weerstoestande wat meer gunstig was vir die aanplantings.
Die plaaslike mieliemark het gister skerp onder druk gekom en meestal laer gesluit vir die dag in meeste van die kontrakmaande, wat nou gelys is.
Die witmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R8/ton laer verhandel om teen R2 590/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R11/ton laer verhandel om teen R2 722/ton te sluit.
Sojabone:
Die Amerikaanse sojaboonmark is steeds onder druk met die laer vraag na olie en oliekoek in Amerika. Die persaktiwiteit van sojabone in dié land was hoog die afgelope maand en dus die olie en meel voorraad ook.
Die stroopproses in Suid-Amerikaanse lande vorder goed. Die opbrengste wat gerapporteer word is laer as wat aanvanklik verwag was.
Die plaaslike sojaboonmark het gister onder druk gekom en het laer verhandel vir die dag in meeste van die kontrakmaande wat tans gelys is.
Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Mei 2020, R38/ton laer verhandel vir die dag om teen R6 772/ton te sluit.
Koring:
Die internasionale koringmark vind steeds ondersteuning met Rusland en Oekraïne, wat die beperkinge op uitvoere implementeer.
In Frankryk het die produksietoestande vir sagtekoring verswak verlede week en dit word nou op 60% goed tot uitstekend geskat, teenoor die vorige week se 61%, wat goed tot uitstekend was.
Die plaaslike koringmark het gister gemeng verhandel met die Mei-kontrak, wat onder druk gekom het, terwyl die verdere maand kontrakte ondersteuning gevind en sterker verhandel het.
Die plaaslike koringmark het vir lewering in Mei 2020, R15/ton laer verhandel om teen R5 485/ton te sluit.
OFM-nuus
