Agri Hour
Droogte nog nie gebreek in NK, natter siklus word wel verwag─── CHRISTAL-LIZE MULLER 07:20 Tue, 21 Apr 2020
Die voorslepende droogte in sekere gebiede van die Noord-Kaap, is nog geensins gebreek nie, maar daar is vooruitsigte vir enkele buie, wat nog voor die winter, kan voorkom.
Daarmee saam lyk die vooruitsigte vir 'n natter komende somerseisoen ook meer belowend. Dit is volgens Johan van den Berg, 'n onafhanklike landbou-weerkundige, wat meen 'n natter siklus word verwag in die sentrale deel van die binneland, wat ook die droogtegeteisterde Noord-Kaap, insluit. Hy sê dit was alreeds in sekere gedeeltes soos die sentrale deel van die Vrystaat sigbaar dié afgelope seisoen gewees. Van den Berg sê dit wil voorkom of die einde van 'n redelike droë siklus, sedert 2011/12, nou in die vooruitsig is. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Van den Berg sê die situasie in die Noord-Kaap is steeds kritiek al is daar gedeeltes waar dit gereën het. Meer reën word in hierdie gedeeltes benodig om die voortslepende droogte te breek. In gedeeltes waar dit kol-kol gereën het, is daar steeds 'n sogenaamde groendroogte. Plante groei en ontwikkel, maar die groei daarvan is swak, en is nie voldoende vir weidingsdoeleindes nie. Terwyl daar wel 'n kans op reën in die Noord-Kaap is voor die winter begin, moet dit in ag geneem word, dat die reënseisoen in 'n groot gedeelte van die Noord-Kaap nou einde se kant toe staan. Dit hou groot uitdagings in vir boere veral dié winter en die tydperk daarna.
Hy sê die stand van damme wek in die algemeen nie groot kommer nie, nadat dit redelik in opvangsgebiede gereën het. Daar is wel sekere damme soos die Vaaldam, wat nie goed gereageer het op reën nie. Dié dam is slegs 50% vol, wat nie goeie nuus is nie, veral, omdat daar nie meer geleenthede gaan wees vir aanvulling van water in die vorm van reën nie. Daarmee saam is Lesotho se Katsedam se vlak 30% laer as dié dam se volle vermoë. Water vanaf dié dam is vir Gauteng bestem. Hy sê die Gariepdam en ander kleiner damme se vlakke is egter bevredigend, maar die Vaaldam bly die grootste bron van kommer, gedeeltes rondom dié dam asook die Vaalrivier kan later probleme vir boere inhou wat afhanklik is van dié water.
OFM-nuus
