Agri Hour
SA wildbedryf nie vergelykbaar met Oosterse praktyke─── CHRISTAL-LIZE MULLER 23:33 Mon, 27 Apr 2020
Wilbedryf SA verwerp die EMS-stigting se versoeke aan die Suid-Afrikaanse regering om in die lig van die koronavirus 'n verbod op die plaaslike verbruik van wildsvleis te plaas.
Dié stigting, wat onlangs prokureursbriewe aan betrokke regeringsdepartemente gerig het, voer glo aan dié virussiekte van wild oorgedra kan word. Wiaan van der Linde, vise-president van Wildbedryf SA, sê die EMS-stigting se versoeke is ongegrond, want die situasie rondom die slagting en eet van wilde diere op sogenaamde "nat markte" in die Ooste is nie vergelykbaar met boerderypraktyke in Suid-Afrika nie. Hy sê daar is 'n agenda agter dié stigting se versoeke. Dié stigting is 'n organisasie sonder winsbejag wat hom toespits op die welsyn van onder meer wilde diere... OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Van der Linde gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê dié stigting is teen die kommersialisering van wilde diere, wildboerdery en teen jag gekant en hulle gebruik nou 'n bestaande situasie met betrekking tot die Covid-19-pandemie om inligting te verdraai. Daar is geen voordeel vir betrokkenes om aan hulle versoeke gehoor te gee nie. Dié stigting teiken 'n bedryf wat iets beteken vir Suid-Afrika ten opsigte van werkskepping en voedselsekerheid, en in dié stadium met die bestaande omstandighede in die land, dra dit by tot groter negatiwiteit.
Die EMS-stigting, wat na Elizabeth Margaret Steyn vernoem is en op 2014 gevorm is, se doelstelling is nie slegs op wilde diere se welsyn gerig nie, maar fokus ook op die belange van ouer mense, kinders en kwesbare groepe plaaslik en in Afrika.
Dit was Wiaan van der Linde, vise-president van Wildbedryf SA en 'n vooraanstaande wildboer slegs op die Agri-Uur.
OFM-nuus
