Agri Hour
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 23:43 Mon, 27 Apr 2020
Hierdie Safex-verslag is deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die Amerikaanse mieliemark word steeds onder druk gehou deur die lae energiepryse wat die produksie van etanol baie teruggesit het. Dit beïnvloed ook die vraag van Amerikaanse mielies negatief.
Die Amerikaanse Departement van Landbou se nuutste weeklikse produksievorderingsverslag sal 'n goeie aanduiding gee van hoe die aanplantings vorder. In sommige gedeeltes van die land kon die aanplantings vinniger plaasvind, terwyl ander gedeeltes steeds te nat toestande ervaar.
Die plaaslike mieliemark het Vrydag skerp onder druk gekom en het laer verhandel in meeste van die kontrakmaande wat nou gelys is van wit én geelmielies.
Die witmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R42/ton laer verhandel om teen R2 556/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R47/ton laer verhandel om teen R2 688/ton te sluit.
Sojabone:
Die Suid-Amerikaanse sojaboonproduksie vir die seisoen is aansienlik laer as wat aanvanklik verwag was. Die aanvanklike skatting was dat die Suid-Amerikaanse produksie vir die seisoen 8 – 9 miljoen ton meer sou wees as die vorige jaar se produksie. Die huidige skatting is dat dit ongeveer 1 miljoen meer behoort te wees as die vorige seisoen se produksie.
China toon steeds goeie vraag na sojabone en doen heelwat invoeraankope. Die meeste van die Chinese invoeraankope is van Brasilië af.
Die plaaslike sojaboonmark het onder druk gekom en het laer verhandel Vrydag in meeste van die kontrakmaande wat gelys is.
Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Mei 2020, R77/ton laer verhandel om teen R6 822/ton te sluit.
Koring:
Die weerstoestande wat oor die naweek in die Europese Unie geheers het, was positief vir die winterkoring-produksie, nadat dit aanvanklik die seisoen oorwegend droog was.
In Amerika is daar steeds onsekerheid oor wat die impak van die koue toestande op die winterkoringproduksie was. Die nuutste weeklikse produksievorderingsverslag sal meer sekerheid daaromtrent verskaf.
Die plaaslike koringmark het Vrydag gemeng verhandel met die naby maand kontrakte wat sterker verhandel het vir die dag, terwyl die verder maand kontrakte onder druk gekom het en laer gesluit het vir die dag.
Die plaaslike koringmark het vir lewering in Mei 2020, R15/ton hoër verhandel om teen R5 565/ton te sluit.
OFM-nuus
