Agri Hour
VKB dra by tot voedselsekerheid─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:36 Tue, 28 Apr 2020
Die landboubesigheid, VKB, gaan in die nasionale grendeltydperk weens die Covid-19-pandemie onverpoos voort om gehalte diens te lewer ten einde 'n rol te speel om voedselsekerheid in die land te verseker.
Koos Janse van Rensburg, besturende direkteur van die VKB-groep, sê hulle is in 'n bevoorregte situasie om deel te kan wees van die landboubedryf in dié uitdagende tye. Daarom is dit dié groep se mandaat om te fokus op die veiligheid van mense, maar ook om voort te gaan met produskie. Hy sê die verwagte goeie somergraanoes is ook bemoedigend... OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Janse van Rensburg sê daar is egter uitdagings soos dié groep se winkels wat tot nou toe slegs noodsaaklike goedere vir landbouproduksie aan die publiek verkoop het. Ander handelsware kon nie verkoop word nie en die publiek het nie altyd begrip daarvoor nie. Nywerhede wat tydens dié tydperk kan voortgaan, ervaar uitdagings met betrekking tot die vervoer van werknemers.
Daar was aanvanklik probleme met die beskikbaarheid van verpakkingsmateriaal weens onderbrekings by vervaardigers, wat weer 'n impak op boere se produksie het. Dit sluit eierhouers in. Groot kapitale items soos stropers kon ook nie versprei word vanaf hawens weens logistieke uitdagings nie, terwyl onderhoud aan spoorweë, veral in die Oos-Vrystaat, nie kan plaasvind nie. Dit alles kan groot uitdagings inhou om graan, wat nou gestroop gaan word, na hawens te vervoer. Dit gaan lei tot verhoogde padvervoer.
Dit was Koos Janse van Rensburg (Besturende Direkteur) van VKB Landbou. Skakel Woensdagoggend in op die Agri-Uur wanneer Janse van Rensburg verder gesels oor VKB in samewerking met die Landbousakekamer, Agbiz, om kos te voorsien aan behoeftige gemeenskappe wat weens die Covid-19-pandemie in nood verkeer.
OFM-nuus
