Agri Hour
TLU SA soek duidelike riglyne oor vervoerkwessies─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:56 Thu, 30 Apr 2020
Daar is verskeie onduidelikhede ten opsigte van regulasies met betrekking tot die nasionale inperking weens die Covid-19-pandemie, wat Vrydag oor die land heen na vlak-4 verlaag word.
Bennie van Zyl, algemene bestuurder van TLU SA, sê die feit dat die jag van wilde diere nou toegelaat word, word verwelkom, maar dit is nie duidelik omvat oor hoe dit op grondvlak gaan plaasvind nie. Jagtogte is met die aanvang van die inperkingsperiode verbied, maar word nou intussen toegelaat. Hy sê die probleem is egter dat mense wat dié inperkingsregulasies instel, nie 'n begrip van die situasie op grondvlak het nie. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê die regulasies dui slegs aan dat daar voortgegaan kan word om te jag, sonder dat alles wat daarmee verband hou, deursigtig in ag geneem is. Van Zyl verduidelik dat in die jagbedryf daar selde gejag word in dieselfde provinsie waar die jagter woonagtig is. Dit vind in ander provinsies plaas en die jagtogte duur gewoonlik oor 'n paar dae. In daardie verband kom die gasvryheidsbedryf, soos gastehuise en hotelle, in die gedrang en dié bedrywe kan nie tydens die inperkingstydperk voortgaan nie. Dit laat baie vrae ontstaan oor waar die lyn getrek kan word.
Van Zyl sê daar is nou gesentraliseerde navrae oor onder meer die jagkwessie aan die nasionale koördinerende komitee gerig om duidelikheid te verkry. Voorstelle is ook gedoen. Die funksionering van die waardeketting in die landboubedryf is ook nie duidelik aan gemeenskappe nie. Mense verstaan dit nie altyd nie en dit is juis belangrik om 'n begrip te hê daaroor, veral ten opsigte van die onderbreking van boere se produksieproses.
TLU SA wil ook uitklaring by die regering hê oor die regulasies rondom beweging in die landboubedryf, wat uit die staanspoor as 'n noodsaaklike diens geklassifiseer is. Dit kom nadat TLU SA klagtes ontvang van boere wat goedere vervoer en by padversperrings deur polisiebeamptes voorgekeer word en nie toegelaat word om verder te ry nie. Dié beamptes voer aan die vervoerpermitte wat boere verskaf, is nie voldoende nie. Boere word of beboet of beamptes maak hulle na bewering skuldig aan omkopery om boere toe te laat om verder te reis.
OFM-nuus
