Agri Hour
#Covid19: Verbod op patrollering in landelike gebiede 'n leemte─── CHRISTAL-LIZE MULLER 00:01 Mon, 04 May 2020
Die minister van polisie, Bheki Cele, staan vas by die verbod op die patrollering deur buurt- en plaaswagte tydens die Covid-19 staat van inperking.
Die patrollering in landelike gebiede is 'n tradisionele gevestigde instelling en is deel van die landelike beveiligingstrategie, wat in oorleg met die polisie in plek gestel is. Dit is volgens Bennie van Zyl, algemene bestuurder van TLU SA, wat meen Cele se oortuiging laat 'n groot leemte. Dit ondanks die feit dat daar uit verskeie geledere druk op Cele asook ander betrokke besluitnemers geplaas word om dié verbod op te hef. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Van Zyl gepraat....
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê patrollering deur buurt- en plaaswagte het in die verlede 'n beduidende rol gespeel in die stabilisering van landelike gebiede deurdat booswigte die geleentheid ontsê is om maklik misdrywe te pleeg en produkte op plase te plunder en hulle skuldig te maak aan veediefstal. Die polisie se aandag is nou gevestig op die hantering van die Covid-19-pandemie, terwyl veiligheid in landelike gebiede aan die agterspeen suig. Van Zyl verwys na dit as 'n braak veld wat nou vir booswigte gelaat word.
Groot druk word steeds op die betrokkenes in die regering, insluitende Cele, geplaas om die plaaswagstelsel weer toe te laat.
TLU SA het 'n petisie saamgestel oor dié kwessie en dit is reeds deur meer as 10 000 mense gesteun. Dié inligting is aan die presidensie asook die polisie gestuur.
'n Brief is ook aan die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, gerig waarin dit duidelik gestel is dat die verbod op die patrollering van gebiede nie in die belang van voedselsekerheid is nie. Dit dra by tot onstabiliteit en boere ly skade weens misdrywe op plase en kleinhoewes, terwyl hulle verantwoordelik is om kos te produseer.
OFM-nuus
