Agri Hour
Bedryf verlig - wol nou 'n noodsaaklik produk─── CHRISTAL-LIZE MULLER 00:24 Mon, 04 May 2020
Die wolbedryf slaak 'n sug van verligting nadat dit ingevolge die Covid-19-regulasies nou as 'n noodsaaklik produk geklassifiseer word.
Leon de Beer, hoofbestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging, NWKV, sê die waardeketting vir wol het nou weer die geleentheid om op dreef te kom. Dié aangepaste regulasies is verlede week deur die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, bekendgemaak. De Beer sê wol kan nou weer na markte vervoer word, skeerders van wol kan ook 'n diens op plase lewer, terwyl wol voortaan by die woltoetsburo getoets kan word. Hy sê makelaars is ook gereed en veilings kan voortgaan... OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met De Beer gepraat....
Sien onderstaande PODCAST
De Beer sê daarmee saam het kopers en makelaars onderneem om voort te gaan met veilings tydens die tradisionele afseisoen wat voorheen in Junie plaasgevind het. Dit is om 'n geleentheid te skep om tyd, wat verlore gegaan het tydens die nasionale inperking, in te haal. Die nasionale wolveiling het reeds verlede week in Port Elizabeth plaasgevind, nadat dit die vorige week elektronies aangebied is.
De Beer sê hoewel die prys van wol nie te sleg gegaan het nie tydens dié veiling, wat die eerste van sy soort was vir die bedryf, was dit egter 'n tydrowende proses met min bale wat oor 'n tydperk van twee dae verkoop is.
Hy sê die veiling is nou gerat, en wol kan verskuif word. Skape kan geskeer word en na die wolmark vervoer word, maar daar moet steeds by die nodige protokol gehou word ten opsigte van die voorkoming van die Covid-19-pandemie. Sanitêre middels moet gebruik word, 'n veilige afstand moet gehandhaaf word tussen mense sodat die bedryf homself kan beskerm.
Nog goeie nuus is dat die uitvoer van wol geskied en daar nie 'n opeenhoping is nie.
OFM-nuus
