Agri Hour
Nasionale Tesourie moet Landbank nou red─── CHRISTAL-LIZE MULLER 09:16 Tue, 05 May 2020
Kommer in georganiseerde landboukringe oor die land se ekonomiese verval en onstabiliteit neem toe.
Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê in die stadium bloei die land se ekonomie nadat Suid-Afrika tot rommelstatus afgegradeer is. Daarmee saam is die Landbank ook in 'n geldelike verknorsing nadat die internasionale kredietgraderingsagentskap, Moody's, dié bank tot rommelstatus afgegradeer het. Die Covid-19-pandemie is nou ook 'n reuse-uitdaging. Hy meen die enigste oplossing vir Suid-Afrika om uit dié storm te kom, is goeie samewerking deur alle belanghebbendes. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Van Zyl sê die Landbank se finansiering in die landboubedryf sluit skuld van sowat R44 miljard in en ‘n wesenlike gedeelte van dié skuld raak boere, landboubesighede en ander betrokkenes in die waardeketting.
Agri SA is egter in gesprek met dié bank en Van Zyl meen die Nasionale Tesourie sal nou moet optree om die Landbank te red. Daar sal aan die einde van die dag strategiese besluite geneem moet word, veral as dié bank se prioriteit teen dié van die SAA opgeweeg word, sal die toediening van befondsing in ag geneem moet word.
Vinnige en drastiese optrede word benodig.
Hy sê die toepassing van Covid-19-regulasies ten opsigte van die nasionale inperking was tot nou 'n groot frustrasie vir sommige produsente.
Veral die kwessie van veilings - wat deur die polisie in hoofsaaklik die Vrystaat en Noord-Kaap gestop is weens onduidelikheid rondom die regulasies van die nasionale inperking - was 'n kopseer. Dit is egter nou met die vlak-4 inperking, wat Vrydag in werking gestel is, uitgesorteer.
OFM-nuus
