Agri Hour
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 08:12 Wed, 06 May 2020
Die markverslag word verskaf deur Graan SA (GSA).
Mielies:
Die Amerikaanse mieliemark is vasgevang tussen die internasionale energiepryse en die verwagte rekord aanplantings. Die internasionale energiepryse het ondersteuning gevind en het die Amerikaanse mieliemark ondersteun, maar die goeie aanplantingstempo het druk op die mark geplaas en die mark het meestal sywaarts verhandel.
Hoewel die Amerikaanse mielie-aanplantings aansienlik vinniger as die gemiddelde tempo plaasgevind het tot dusver, is die persentasie van die mielies wat reeds ontkiem het, laer as die vyf jaar gemiddelde tempo.
Die plaaslike mieliemark het gister meestal onder druk gekom en het laer verhandel vir die dag in meeste van die kontrakmaande wat tans gelys is van wit en geelmielies.
Die witmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R4/ton laer verhandel vir die dag om teen R2 440/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R24/ton laer verhandel om teen R2 565/ton te sluit.
Sojabone:
In die Amerikaanse sojaboonmark is die verwagting van goeie produksie vir die seisoen, sowel as die handelsgeskille tussen Amerika en China, wat nie opgelos kan word nie, negatief vir die Amerikaanse sojaboonpryse.
Die Amerikaanse sojaboon-oliepryse het ondersteuning gevind met die vraag wat effens hoër is in die energiemarkte.
Die plaaslike sojaboonmark het gister meestal onder druk gekom en het laer verhandel vir die dag in meeste van die kontrakmaande wat tans gelys is.
Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Mei 2020, R103/ton laer verhandel vir die dag om teen R6 551/ton te sluit.
Koring:
Die sagtekoring-uitvoer vanaf die EU is hoër vir die seisoen, wat kompeteer met die Amerikaanse koring-uitvoer. Dit hou die Amerikaanse koring-uitvoer onder druk.
In die VSA is die produksietoestande van winterkoring beter as wat verwag was, veral na die koue toestande wat in gedeeltes van die produksiegebied geheers het.
Die plaaslike koringmark het gister meestal onder druk gekom en het laer verhandel vir die dag in meeste van die kontrakmaande wat tans gelys is.
Die plaaslike koringmark het vir lewering in Mei 2020, R51/ton laer verhandel om teen R5 464/ton te sluit.
OFM-nuus
