Agri Hour
Droogte het steeds stewige greep op NK-boere─── CHRISTAL-LIZE MULLER 10:50 Wed, 06 May 2020
Boere in 'n groot gedeelte van die droogtegeteisterde Noord-Kaap maak steeds staat op finansiering om veevoer vir hul kuddes te bekom, omdat daar geen natuurlike weiding beskikbaar is nie.
Dit is die situasie nadat die droogte steeds nie sy stewige greep verslap het in die grootste deel van die provinsie nie. Willem Symington, adjunkpresident van Agri Noord-Kaap en hoof van Agri SA se rampbestuursentrum, sê die droogte is steeds nie gebreek in dié provinsie nie, al het dit in sekere gebiede gereën. Hy sê daar is groot dankbaarheid oor dié reën van die afgelype tyd, maar dit het steeds geïsoleerd voorgekom. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê dit reën kol-kol in distrikte met reënval wat tussen 25mm en 35mm wissel, terwyl dit op ander plase in dieselfde distrik niks gereën het nie. Daarom sal die droogte nie gebreek word voordat goeie reënval oor die provinsie heen aangeteken word nie. Produsente, wat reeds hul kuddes aansienlik uitgedun het, is in die stadium baie bekommerd oor die winter wat voorlê. Hoewel 'n klein gedeelte van die provinsie 'n winterreënval streek is, is daar kommer oor die winter wat voorlê. Dit sluit gebiede in die sentrale, suidelike en westelike gedeeltes in.
Volgens hom is daar altyd 'n behoefte onder produsente om hul diere te voer, maar dit is steeds 'n groot uitdaging, omdat dié boere se kontantvlei beroerd is. Symington sê dié produsente is onder geweldige druk om goeie finansiëring vir veevoerdoeleindes te kry. Boere het hul kuddes verminder en dit is lank reeds nie meer 'n wetenskaplik geordende vermindering nie, terwyl diere gevrek het in die droogtesituasie. Met minder diere vind produsente dit moeilik om rekeninge te betaal met geld wat hul ontvang uit die verkoop van hul veekuddes.
Dit was Willem Symington, adjunkpresident van Agri Noord-Kaap en hoof van Agri SA se rampbestuursentrum, slegs op die Agri-Uur.
OFM-nuus
