Agri Hour
Saai skud kop vir sentralisering van kospakkies aan armes─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:40 Wed, 06 May 2020
Die landbou-organisasie, Saai, wat hom toespits op familieboerderye, raai boere aan om tydens die nasionale inperking weens die Covid-19-pandemie, nie surplus kos deur regeringskanale aan behoeftiges te versprei nie.
Dr. Theo de jager, voorsitter van die direksie van Saai, sê dié organisasie het sy kop geskud vir die regering se aankondiging dat voedselhulp gesentraliseer word met die regering aan die stuur van sake. De Jager sê Saai het dit duidelik gestel dat hy nie gaan toelaat dat honger, behoeftige gesinne tydens die nasionale inperking van kos ontsê word nie omdat kos deur die regering versprei word. Daar is té veel vraagtekens oor die regering se hantering daarvan. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met De Jager gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê Saai het reeds met die aanvang van die inperkingstydperk voorsien dat Suid-Afrika 'n kosnood in huishoudings gaan beleef. Dit is die grootste bedreiging vir stabiliteit in Suid-Afrika en nie die virussiekte of die gesondheidsituasie in die land nie. Daar is té veel gesinne wat nie kos het om te oorleef nie.
Volgens De Jager het verskeie betrokkenes, organisasies, insluitend landbouverenigings, reeds vroeg in dié tydperk hul hand opgesteek om gemeenskappe se kosnood te verlig. Duisende kospakkies is al versprei, danksy onder meer boere wat surplusprodukte soos vleis, groente en vrugte geskenk het om aan mense in landelike gebiede, wat in nood verkeer, te versprei. Die regering het ook 'n projek begin, maar uit die staanspoor was daar klagtes en vraagtekens rondom die regering se hantering daarvan. Kos het na bewering nie by behoeftiges uitgekom nie, terwyl munisipale raadslede en politici glo van die kos vir hul eie gebruik gehou het en selfs verkoop het, of slegs aan hul ondersteuners glo vir politieke gewin uitgedeel het.
De Jager sê daarom het Saai 'n lyn getrek en dit duidelik gestel dat die organisasie nie gaan toesien dat die regering verantwoordelik is vir die verspreiding van kos wat deur dié landboubedryf geskenk word nie.
Hy sê boere moet met hul onderskeie landbouverenigings in verbinding tree of hulle kan Saai nader indien hulle surplusprodukte wil skenk. Saai sal toesien dat dié produkte deur die korrekte burgerlike strukture versprei word en verligting bring vir mense wat swaartrek.
Hongersnood is 'n kollektiewe uitdaging waarby alle betrokkenes wat hulp kan verleen, saam moet werk.
Dit was dr. Theo de Jager, voorsitter van die direksie van die landbou-organisasie, Saai, slegs op die Agri-Uur.
OFM-nuus
