Agri Hour
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 10:26 Tue, 12 May 2020
Hierdie verslag is deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die Amerikaanse mieliemark is steeds nog vol onsekerhede rakende die moontlike impak van koue skade wat in gedeeltes van die land se produksiegebiede kan voorkom en dit bied steeds ondersteuning aan die pryse.
Dit lyk ook tans in Amerika of die verbruik van etanol weer begin toeneem, wat weer positief sal wees vir die vraag na mielies. Die lae internasionale energiepryse het die etanolproduksie en gevolglik die mielieverbruik skerp onder druk geplaas.
Die plaaslike mieliemark het gister meestal ondersteuning gevind en het sterker verhandel vir die dag in meeste van die kontrakmaande wat tans gelys is van wit en geelmielies.
Die witmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R10/ton hoër verhandel vir die dag om teen R2 499/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R5/ton hoër verhandel om teen R2 615/ton te sluit.
Sojabone:
Die internasionale sojaboonmark het oor die algemeen ondersteuning gevind met die goeie koopkrag wat steeds in China gesien word. China koop nou meestal Suid-Amerikaanse sojabone vir invoer.
Die groot uitvoer vanaf die Suid-Amerikaanse lande verlaag die beskikbare voorraad wat kan veroorsaak dat China later die jaar genoodsaak sal word om sojabone vanaf Amerika aan te koop. Die handelooreenkoms tussen Amerika en China bly egter steeds 'n groot punt van bespreking, wat die vloei van sojabone in die tweede helfte van die jaar sal bepaal.
Die plaaslike sojaboonmark het gister gemeng verhandel met die Mei en Julie kontrak wat ondersteuning gevind het en sterker verhandel het vir die dag, terwyl die verder maand kontrakte onder druk gekom het en laer gesluit het vir die dag.
Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Mei 2020, R13/ton hoër verhandel vir die dag om teen R6 646/ton te sluit.
Koring:
Die internasionale koringmark het ondersteuning gevind nadat die weerstoestande in Rusland verbeter het wat gunstig is vir die produksieverwagtinge daar.
In Amerika is die verwagting ook dat die moontlike koue skade van die naweek nie 'n groot impak op die produksie potensiaal behoort te hê nie, wat ook ondersteuning aan die internasionale mark gebied het.
Die plaaslike koringmark het gister meestal ondersteuning gevind en het sterker gesluit vir die dag.
Die plaaslike koringmark het vir lewering in Mei 2020, R20/ton hoër verhandel om teen R5 540/ton te sluit.
OFM-nuus
