Agri Hour
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 21:38 Tue, 12 May 2020
Die verslag word deur Graan SA (GSA) beskikbaar gestel.
Mielies:
Volgens die nuutste weeklikse produksievorderingsverslag wat deur die Amerikaanse Departement van Landbou bekend gemaak word, is 67% van dié land se mielies vir die seisoen aangeplant.
Die 67%-aanplantings wat voltooi is, is aansienlik meer as verlede seisoen se 28% wat voltooi is en die 5 jaar gemiddeld van 56% wat teen dieselfde tyd van die jaar voltooid was.
Die plaaslike mieliemark het gister meestal onder druk gekom en het laer verhandel vir die dag in meeste van die kontrakmaande wat gelys is vir wit- en geelmielies.
Die witmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R35/ton laer verhandel vir die dag om teen R2 460/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R31/ton laer verhandel om teen R2 584/ton te sluit.
Sojabone:
Die Amerikaanse Departement van Landbou se nuutste weeklikse produksievorderingsverslag dui aan dat 38% van die sojabone in Amerika reeds aangeplant is.
Die 38% sojaboonaanplantings wat reeds voltooi is, is aansienlik meer as die vorige seisoen se 8% voltooide mielies en die 5 jaar gemiddeld van 23% wat teen dieselfde tyd van die jaar voltooid was.
Die plaaslike sojaboonmark het meestal onder druk gekom en het laer verhandel vir die dag in meeste van die kontrakmaande wat tans gelys is.
Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Mei 2020, R32/ton laer verhandel vir die dag om teen R6 610/ton te sluit.
Koring:
Die Amerikaanse winterkoring produksietoestande word op 53% goed tot uitstekend geskat in die nuutste weeklikse produksievorderingsverslag wat deur die Amerikaanse Departement van Landbou bekend gemaak is.
Die produksietoestande het verswak vanaf die vorige week se skatting toe dit op 55% goed tot uitstekend geskat is. Verlede seisoen, teen dieselfde tyd van die jaar, was dit op 64% goed tot uitstekend geskat.
Die plaaslike koringmark het gister meestal gemeng verhandel vir die dag.
Die plaaslike koringmark het vir lewering in Mei 2020, R24/ton laer verhandel om teen R5 515/ton te sluit.
OFM-nuus
