Agri Hour
Trompsburg-skool in sy noppies met suksesvolle WhatsApp-wildsveiling─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:53 Fri, 15 May 2020
Die Primêre Skool Trompsburg se WhatsApp-wildsveiling om geld vir die Vrystaatse skool in te samel, het alle verwagtinge oortref.
Louwrens Strydom, skoolhoof, sê die gemeenskap trek swaar in die grendeltydperk weens die Covid-19-pandemie en talle ouers werk nie in dié stadium nie. Hulle kan dit nie bekostig om hul kinders se skoolfondse te betaal nie en twee van die skool se geldinsamelingsprojekte het in die grendeltydperk deur die mat geval. Daarom het die gemeenskap, onder leiding van die Trompsburg-landbouvereniging, wild- en jagpakkette asook karkasse geskenk vir die veiling wat Woensdag via WhatsApp aangebied is. Strydom sê dit was 'n reuse-sukses en al die lotte wat aangebied is, is verkoop. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê die skool het sowat R90 000 se wins behaal. Daar was 60 geregistreerde kopers. Strydom sê daar is groot dankbaarheid vir boere van die Trompsburg-landbouvereniging, wat al die lotte geskenk het. Volgens hom speel die landbougemeenskap 'n groot rol ten opsigte van die ekonomiese welstand van dié skool. Plaaslike sakeondernemings was ook betrokke ten opsigte van die verwerking van die vleis en Strydom loof sake-ondernemings in Trompsburg en omliggende dorpe vir hul betrokkenheid by dié WhatsApp-wildsveiling.
Daar was onder meer 42 springbokke, 23 blesbokke, 'n swartwitpens en 'n gemsbok wat opgeveil is. Mense moes vooraf registreer waarna hulle op 'n Whatsapp-groep geplaas is. Die bie-proses was maklik met 'n lot wat op die Whatsapp-groep verskyn het. Daardie lot het 'n reserweprys gehad. Deelnemers kon dan hul prys aandui, waarna die registrateur aangedui het aan wie die lot verkoop is.
OFM-nuus
