Agri Hour
Trompsburg, omliggende gemeenskappe staan saam─── CHRISTAL-LIZE MULLER 07:14 Tue, 19 May 2020
Die gemeenskap van Trompsburg in die Vrystaat weet hoe om saam te saam in uitdagende omstandighede.
Besighede, asook die landbougemeenskap, wat self in 'n mate swaartrek en deur die nasionale staat van inperking weens die Covid-19-pandemie, geknou word, het steeds vrygewige harte om ruim skenkings aan behoeftige mense te doen.
'n Voorbeeld hiervan is die Trompsburg Primêre Skool se WhatsApp-veiling om geld in te samel vir dié skool, wat baie goed afgeloop het. 'n Wins van sowat R90 000 is behaal. Wild, karkasse en jagpakkette is deur boere vir dié veiling geskenk. Die skoolhoof, Louwrens Strydom, sê daar is groot nood in Trompsburg, maar mense se welwillendheid is opmerklik. OFM-nuus se Christal-
Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê daar is mense in Trompsburg wat nie kos het nie, maar twee keer per week kos ontvang, soos meel en ander produkte, wat verskaf word deur ander lede van die gemeenskap wat dit kan bekostig om skenkings te doen. Altesaam 250 behoeftige gesinne word gevoed. Hy sê plaaslike sakeondernemings doen ook hul bes om gemeenskappe te ondersteun, al sukkel hulle self om kop bo water te hou. Daarom is dit vir dié gemeenskap belangrik om plaaslike besighede te ondersteun, want dié sakeondernemings skroom nie om die skool by te staan nie en daarom is dit belangrik om terug te ploeg in sakeondernemings.
Gemeenskappe van Colesberg, Fauresmith en Philippolis ondersteun mekaar ook.
Die landbougemeenskap is ook 'n integrale deel van dié skool wat uit sowat 154 leerlinge vanaf gr.1 tot gr.7 bestaan. Daar is goeie samewerking met boere in die distrik en hul ondersteuning kom al oor jare. Dié verhouding is deel van die skool se geskiedenis en dit is boere wat gehelp het om die Primêre Skool Trompsburg te bou.
OFM-nuus
