Agri Hour
#Covid19 verander dalk regering se siening van grondhervorming─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:36 Wed, 27 May 2020
Die fokus op grondhervorming en meer spesifiek die onteiening van eiendom sonder vergoeding het ietwat afgeneem weens die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika.
Dr. Piet Croucamp, 'n politieke-ontleder aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê dit kan toegeskryf word aan die feit dat daar nie nou 'n volle sitting van die Nasionale Vergadering plaasvind nie. Hy meen egter die ANC besef met die Covid-19-pandemie dat landbou 'n baie belangrike rol speel. Croucamp meen dit kan daartoe bydra dat die regering later moontlik anders na grondhervorming kan kyk. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê grondhervorming kan nie statutêr vasgevang word weens die Nasionale Vergadering wat nie byeen is nie. Daar kan egter verwag word dat wanneer die Parlement weer vergader, die komitee wat verantwoordelik is vir grondhervorming en wat die grondonteieningsproses hanteer, sal voortgaan met die proses.
Daarmee saam meen Croucamp die ANC besef nou die noodsaaklike rol van landbou ten opsigte van voedselsekerheid wat 'n positiewe veranderlike is. Dit is omdat daar sekerheid is dat kos geproduseer word deur boere, terwyl daar steeds reuse-onsekerheid is op ander gebiede soos die land se ekonomie en toenemende werkloosheid. Hy meen in talle lande in die wêreld kan die situasie rondom die Covid-19-pandemie tot hongersnood ly, maar in Suid-Afrika is dit slegs ter sprake en van toepassing op mense wat nie geld het om kos te koop nie. Daar kan wanvoeding en ondervoeding onder mense wees, maar in Suid-Afrika is kos beskikbaar, sê hy.
Met die nadraai van dié pandemie en die regering wat nou besef hoe belangrik landbou is, nie slegs as 'n waardeketting nie, maar ook as 'n vorm van sekerheid, kan die regering dalk op 'n ander wyse na grondhervorming kyk, want daar is reeds 'n konstruktiewe manier om grondhervorming plaaslik in plek te stel.
Dit was dr. Piet Croucamp, 'n politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit (NWU).
OFM-nuus
