On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agri Hour

Tabakverbod: Hele waardeketting word geraak

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Mon, 01 Jun 2020

Tabakverbod: Hele waardeketting word geraak | News Article
FOTO: Limpopo Tobacco Processors

Met internasionale anti-tabakdag wat gister plaasgevind het, beklemtoon dié plaaslike tabakbedryf egter opnuut die reuse finansiële en sosio-ekonomiese bydrae wat dié bedryf in Suid-Afrika lewer.


Francois van der Merwe, 'n tabakboer en 'n direksielid van Limpopo Tobacco Processors in Rustenburg in Noordwes, sê die tabakbedryf speel ook 'n baie belangrike rol in plattelandse ekonomieë, veral ten opsigte van werkskepping. Hy sê daar is meer as 300 tabakboere oor die land heen, waarvan talle opkomende boere is. Volgens hom raak die Suid-Afrikaanse regering se verbod op tabakverkope tydens die nasionale Covid-19-inperkingstydperk nie slegs dié boere nie, maar die hele waardeketting word geraak. Dit terwyl sluikhandel toeneem. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat... 


Sien onderstaande PODCAST


Van der Merwe sê daar is  360 tabakboere in Suid-Afrika waarvan 160 nuwe opkomende boere is wat deur die kommersiële tabakbedryf ondersteun word in terme van ontwikkeling. Dié opkomende boere verskaf werk aan sowat 8 000 mense in landelike gebiede met sowat 30 000 afhanklikes. Dit is 'n reuse-bydrae wat dié bedryf in landelike gebiede lewer. 

Hy sê die verbod op tabakhandel raak die hele waardeketting van boere tot verwerkers van tabak wat dit aan vervaardigers verkoop. Die vervaardigers koop tabak by die plaaslike mark aan en die vervaardigde produkte word weer aan Suid-Afrikaanse verbruikers verkoop.

Volgens hom word meer as 31 miljard sigarette jaarliks deur Suid-Afrikaners gerook. Voor die nasionale inperking weens die Covid-19-pandemie was daar al 19 miljard onwettige sigarette wat gerook word, wat deur middel van sluikhandel bekom is. 

Die tabakbedryf lewer ook maandeliks 'n bydrae van R1,5 miljard aan die nasionale staatskas. Daarom kan daar maar gesê word dat dié verbod op tabakprodukte 'n spyker in dié bedryf se doodskis is. Vir meer as agt weke kan wettige Suid-Afrikaanse vervaardigers nie sigarette en tabakprodukte verkoop nie. Dit is 'n ernstige kwessie, sê Van der Merwe en alles word in die stryd gewerp om die regering te oortuig om die verbod op te hef, omdat dit "absoluut geen doel het nie". Die regering het basies dié mark op 'n skinkbord aan sluikhandel gegee en die enigste wenners is diegene wat onwettig handel dryf. 

Hy sê die eerste vyf weke van die nasionale staat van inperking kon boere al nie hul tabak lewer nie. Die hele tabakwaardeketting het tot stilstand gekom, daar is wel begin om die laaste drie weke tabak by boere te koop, met die hoop dat die verbod opgehef gaan word wanneer die vlak 3-inperking begin. Dit is hoe die bedryf dit vanaf die regering verstaan het. Dit het egter nie gebeur nie.

Dit was Francois van der Merwe, 'n tabakboer en 'n direksielid van die Limpopo Tobacco Processors maatskappy, wat Suid-Afrikaanse tabak aankoop en verwerk. Skakel Dinsdagoggend in op die Agri-Uur vanaf 05:00 tot 06:00 wanneer Van der Merwe verder praat oor die stryd en hoe dit aangepak word teen die regering se verbod op takbakhandel. 

Intussen het pres. Cyril Ramaphosa gister in 'n regstreekse televisie-uitsending gesê hy moes self die aankondiging gedoen het dat tabakhandel nie in vlak 4 van die nasionale staat van inperking toegelaat word nie. Dit nadat hy aanvanklik aangekondig het dit gaan wel toegelaat word, waarna dr. Nkosasana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisonale sake, toe aangekondig het tabakhandel gaan nié tydens vlak 4 toegelaat word nie.    


OFM-nuus


Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.