On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agri Hour

#Covid19: Tabakverbod is irrasioneel, gaan bedryf kelder

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 06:27 Tue, 02 Jun 2020

 #Covid19: Tabakverbod is irrasioneel, gaan bedryf kelder | News Article

Die Suid-Afrikaanse regering se standpunt dat mense wat saam aan 'n sigaret rook, veral in townships, kan bydra tot die verspreiding van die Covid-19-pandemie, is 'n irrasionele argument.


Francois van der Merwe, 'n tabakboer en 'n adviseur in die tabakbedryf, sê dié argument het sekerlik ook daartoe bygedra dat die verbod op tabakprodukte aanvanklik opghef sou word, maar daarna weer beperk is. Hy meen mense wat sigarette deel, deel ook ander items soos koeldrankbottels en borde kos. 

Daarmee saam dra peperduur onwettige sigaretpakkies nou daartoe by dat mense minder daarvan koop, maar dit steeds met mekaar deel. Van der Merwe, wat ook 'n direksielid van Limpopo Tobacco Processors in Rustenburg is, sê daarom het die regering nie 'n goeie argument nie. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Hy meen die regering se verbod op tabakprodukte help nou die verspreiding van die koronavirus aan, want die werklikheid is dat  dié  verbod nie daartoe lei dat mense ophou om dit te gebruik nie. Die gevolge daarvan is katastrofies vir Suid-Afrika en 'n hele waardeketting staar ondergang in die gesig. Daarmee saam verloor die regering R1,5 miljard per maand en rokers word blootgestel aan onwettige ongereguleerde produkte wat teen hoë pryse verkoop word. 

Hy sê alle betrokkenes gaan egter onverpoos voort om die regering te oortuig dat daar weer met Suid-Afrikaanse tabakprodukte handel gedryf kan word. Van der Merwe hoop daardeur kan die regering tot sy sinne kom en indien nie, moet daar begin word om die vraag te stel wat die werklike kwessie agter die verbod op tabakprodukte is. Daar moet uitgevind word of daar onwettige geld is wat iewers vloei en waarby betrokkenes baat. Dit is egter onnodig want 'n mens wil sy regering tog vertrou, sê hy. 

Volgens hom is daar aanvanklik goeie bydraes met die aanvang van die Covid-19-inperkingstydperk deur betrokkenes in die bedryf gelewer. Daarom het pres. Cyril Ramaphosa aanvanklik aangekondig dat met die vlak 4-inperking gaan die verbod opgehef word. "Ons het vordering gemaak en toe tree daar argumente in. Ons dink dit is maar die politiek wat 'n rol speel." 

'n Week na Ramaphosa se aankondiging is die besluit om die verbod op te hef teruggetrek met die verstandhouding dat dit weer in vlak 3 van die inperking opgehef sal word. Dit het ook nie plaasgevind nie. 

Daar sal voortgegaan word om druk op die regering te plaas, maar hulle is nie baie ontvanklik nie. Die bedryf probeer om deur ander besigheidsgroepe tot die regering deur te dring en die hele waardeketting in die tabakbedryf maak ook sy stem dik. Ook tabakboere laat van hulle hoor en kleinhandelaars wat 'n bestaan voer deur die verkoop van sigarette probeer ook om die regering te oortuig. 

Van der Merwe sê daar is hoop dat die regering wel sal toegee, want die bedryf wil nie in 'n oorlog met die regering betrokke wees nie. 

Dit was Francois van der Merwe, 'n tabakboer en 'n adviseur in die tabakbedryf, slegs op die Agri-Uur.


OFM-nuus


Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.