Agri Hour
Polisie, gemeenskap keer verdagtes aan ná wrede NW-plaasaanval─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:00 Mon, 08 Jun 2020
Die gemeenskap van Schweizer-Reneke en omliggende gebiede in Noordwes het die afgelope naweek nou saam met die polisie gewerk nadat 'n egpaar wreed op hul plaas by Reivilo aangeval is.
Pierre van de Venter, 'n polisiereservis, wat ook boer in die Schweizer-Reneke gebied en by verskeie landbou-organisasies betrokke is, sê die plaaslike polisie het boere en gemeenskapslede se hulp ontbied. Dit kom nadat Schalk Coetzee en sy vrou Lana, Saterdagoggend aangerand en vermoedelik deur drie mans beroof is. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Van de Venter gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Dié aanvallers het toe met bankkaarte, geld en die egpaar se voertuig op die vlug geslaan. Twee verdagtes is later dieselfde dag aangekeer, nadat die gemeenskap by die polisie se soektog aangesluit het.
Van de Venter sê 'n derde verdagte is volgens sy inligting steeds soek. Volgens hom het die verdagtes ná dié aanval met die egpaar se Nissan X-trail na Vryburg gejaag. Daar het hulle glo met die gesteelde bankkaarte geld getrek, waarna hulle na Schweizer-Reneke gery het.
Die beweerde gesteelde motor het egter in 'n rivierbed in die Ipelegeng-township vasgeval. 'n Polisievoertuig, wat die verdagtes agternagesit het, het ook vasgeval, waarna die aanvallers te voet gevlug het. Die gemeenskap, wat delwers, besigheidslui en boere insluit, het vinnig gereageer nadat hulle op nood WhatsApp-groepe van die situasie verneem het. Die gebied is afgesper en twee verdagtes is aangekeer. Een van dié mans het egter later daarin geslaag om te ontsnap, maar hy is omstreeks 19:00 dieselfde dag in die Ipelemeng-township deur sowat 120 gemeenskapslede aangekeer en te voet na die plaaslike polisiekantoor geneem.
Van de Venter sê AfriForum was ook betrokke en het in die soektog van 'n hommeltuig gebruik gemaak.
Schalk is na wat verneem word buite die huis oorrompel. Volgens Van de Venter is sy kop herhaaldelik hard teen die grond gedruk, waarna hy met klippe bedek is en 'n voerkrip is oor hom geplaas sodat hy nie kon opkom nie. Die verdagtes het Lana in die huis vasgekeer, aangerand, en volgens sy inligting met kookwater gegooi. Sy is vasgebind. Haar neus is gebreek en haar wangbeen gekraak. Die egpaar word in 'n hospitaal behandel, sê Van de Venter.
Dit was Pierre Van de Venter, 'n polisiereservis en 'n boer wat betrokke is by verskeie landbou-organisasies ten opsigte van veiligheid in die Schweizer-Reneke gebied, slegs op die Agri Uur. Skakel later vandag om 11:00 en 13:30 in op OFM se landbounuusbulletins vir meer hieroor.
OFM-nuus
