Agri Hour
Suidwes Landbou vra produsente vir witmielie-graanskenkings─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:12 Wed, 10 Jun 2020
Die nood in gemeenskappe rondom die beskikbaarheid van kos vergroot soos die Covid-19-pandemie vorder.
Gemeenskappe is onder druk, en daarom het Suidwes Landbou besluit om 'n helpende hand na dié gemeenskappe uit te reik. 'n Witmielie-skenkingsprojek is van stapel gestuur. Deon Badenhorst, bestuurder van korporatiewe bemarking en kommunikasie by Suidwes Landbou, sê die projek behels graanskenkings deur produsente aan Suidwes Landbou se silos. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê dié witmielie-graanskenkings word kosteloos ontvang en geberg. Dit word dan by die Africum Meule in Wolmaransstad verwerk. Dit geskied gratis. Die meel word daarna versprei onder gemeenskappe vanwaar die skenkings ontvang is.
Volgens hom versprei Suidwes Landbou nie self die mieliemeel nie. Daar word van instansies in gemeenskappe gebruik gemaak vir dié doeleinde, omdat dié instansies weet waar daar 'n groot behoefte aan kos is. Hy sê daar word nou saamgewerk met elke gemeenskap se sosiale en maatskaplike netwerke.
Om witmielieskenkings by die Suidwes-graansilos te doen kan die graanskenkingsnommer, 326 801, verskaf word. Die geskenkte graan sal dan vir dié projek gehou word.
Hy moedig produsente aan om hoofsaaklik witmielies te skenk, wat die proses gaan vergemaklik. Daarmee saam gee Suidwes Landbou ook sy versekering dat dié proses verantwoordelik hanteer sal word.
Dit was Deon Badenhorst, bestuurder van korporatiewe bemarking en kommunikasie by Suidwes Landbou. Om weer na insetsels te luister gaan na http://www.ofm.co.za,kliek op News, Agriculture, en Agri-Hour. Skakel ook weeksdae om 11:00 en 13:30 in vir OFM se landbounuusbulletins.
OFM-nuus
