Agri Hour
Vryheidsfront Plus sien rooi oor regering se #Covid19-regulasies─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:18 Wed, 10 Jun 2020
Die regering het die uitreiking van die Covid-19-inperkingsregulasies uiters swak hanteer.
Die Vryheidsfront Plus se leier, Pieter Groenewald, sê dit het duidelik na vore getree tydens dié proses. Arbitrêre besluite is deur die regering geneem, wat nie prakties uitvoerbaar is nie. Hy sê boere het onder meer gekla dat hulle nie van hul produkte van een provinsie na die ander mag vervoer nie. Hulle is deur die polisie en weermag by padversperrings verhoed om dit te doen. Groenewald sê dít terwyl landbou uit die staanspoor van die inperking as 'n noodsaaklike diens geklassifiseer is en daar met die meeste landboubedrywighede voortgegaan kon word. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê dit is sulke optredes deur wetstoepassers wat die regering se onbevoegdheid opnuut beklemtoon. Hy sê daar was nooit duidelike oorweging oor wat die praktiese implikasies van dié regulasies gaan wees nie.
Die regering se benadering oor die gesondheidsrisiko wat tabakverbruik inhou, word ingesien maar Groenewald sê daar ontstaan die vraag of die regering en die betrokke ministers die reg het om dit te verbied. Dit is ook ironies dat mense steeds voortgaan om te rook en tabakprodukte in die sluikhandel bekom. Daarmee saam betaal verbruikers duur daarvoor. Hy sê Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van Samewerkende Regering, moet besef daar is nou reeds 'n tekort aan tabakprodukte en mense rook nou selfs rooibostee. Dlamini-Zuma mislei haarself en besef nie wat is die gevolge en implikasies van die regering se besluite in dié verband nie.
Groenewald sê volgehoue druk word op die regering geplaas om bedrywe wat besig is om aan die kortste ent te trek weens die Covid-19-inperkingsregulasies, te red.
Hy verwys ook na die Vryheidsfront Plus en ander betrokkenes se verhoor op 17 Junie. Regstappe is teen die regering ingestel om juis te sê daar is sekere artikels in die rampbestuurswet wat ongrondwetlik is en dit is arbitrêre besluite soos die verbod op tabakverbruik wat nie werklik sin maak nie.
OFM-nuus
