Agri Hour
Brandseisoen nou hier in die Vrystaat─── CHRISTAL-LIZE MULLER 07:44 Fri, 12 Jun 2020
Min grootskaalse skade is Woensdag deur verskeie brande regoor die Vrystaat aangerig.
Met die kouefront vanaf die Kaap wat nou in die sentrale binneland bibberweer veroorsaak, was daar Woensdag sterk winde. Verskeie grasbrande het in die Mangaung en Matjhabeng munisipale gebiede voorgekom. Die algemene bestuurder van die sambreelliggaam vir brandverenigings in die Vrystaat, Johann Breytenbach, sê die grootste brand was in die Thaba Nchu-distrik op trustgrond, maar dit was nie 'n wegholbrand nie ondanks sterk windtoestande. Hy sê die brandindeks was Woensdag in die suidelike gedeelte van die Vrystaat hoog, maar die provinsie het lig daarvan afgekom as die weerstoestande toé in ag geneem word. Hy sê dié veelvuldige brande vandeesweek dui egter daarop dat die brandseisoen nou hier is. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê daar is volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens nie 'n hoë brandgevaar tydens die kouefronttoestande in die komende dae nie. Brandgevaar kan in gebiede voorkom, maar dit is nie uitermatig soos die geval Woensdag was nie.
"Ons moet besef dat die brandseisoen hier is." Breytenbach meen die provinsie het in vorige jare lig van wegholbrande afgekom in terme van die brandseisoen wat relatief laat begin het. Die brande wat voorgekom het, word nie hiervolgens in ag geneem nie, maar eerder die gevaarvlakke van brande wat ook eers later jaarliks voorgekom het. Daarmee saam was daar ook genoegsame tyd om die nodige voorbereiding vir brande te doen. Hy sê dit moet ook in ag geneem word dat brandstofladings van grasveld en weiding in die Vrystaat in vorige jare relatief laag was teenoor die situasie vanjaar weens goeie reën. Die situasie vanjaar is ietwat anders met hoë brandstofladings van gras en dit is 'n bepalende faktor in die risiko wat dié brandseisoen bestaan, sê hy.
Volgens Breitenbach moet dit duidelik gestel word dat elke grondeienaar volgens die nasionale veld en bosbrandwet 'n verantwoordelikheid het om seker te maak dat enige brand wat op hulle eiendom ontstaan, nie slegs redelikerwys voorkom moet word deur brandbane nie, maar grondeienaars het ook 'n verpligting om genoegsame opgeleide werknemers te hê om brande te bestry. Voldoende toerusting is ook nodig. Mense wat grond gebruik, word dus verantwoordelik gehou om brande op eiendom onder hulle beheer te bestuur.
Die tydperk waarin brandbande jaarliks gemaak mag word, verskil van streek tot streek, maar as 'n breë reël moet brandbane teen die eiende van Julie in plek wees. Dit is noodsaaklik omdat daar 'n drastiese styging in brandgevaar vanaf 1 Augustus kan wees.
OFM-nuus
