Agri Hour
Drakensberger-genootskap bied nasionale veiling aanlyn aan─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Fri, 19 Jun 2020
Onsekerheid oor die aanbieding van die Drakensberger-telersgenootskap se nasionale veiling het daartoe gelei dat dié genootskap alternatiewe wyses ondersoek het om af te wyk van die tradisonele wyse van aanbieding.
Henk Delport, adjunkpresident van die Drakensberger-telergenootskap, sê hulle het besluit om 'n aanlyn nasionale veiling te hou. Dié veiling, wat oor twee dae strek, vind volgende week plaas. Hy sê daar is 'n katalogus met foto's en videos van die diere wat aangebied word. Dit stel voornemende kopers in staat om dragtige koeie en bulle te besigtig waarin hulle belangstel. Besoek kan ook afgelê word aan verkopers op hul plase om dié diere self te sien. 'n Speenkalwerveiling waarop suiwer Drakensberger-diere aangebied word, vind eerskomende Maandag plaas. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Delport gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê daar is deesdae ‘n tendens om hierdie tipe veilings aan te bied en daarom is die besluit geneem om voort te gaan met 'n aanlynveiling. Saam met die nasionale word 'n aanlyn speenkalwer veiling ook volgende week gehou.
Delport meen die voordeel van 'n videoveiling is die diere wat aangebied word, hoef nie geskuif te word na 'n veilingskraal nie. Die diere bly op die verkoper se plaas en as dit nie teen die verkoper se minimum prys verkoop nie, hoef die betrokke lot nie terugvervoer te word nie. Indien diere verkoop word, moet die koper hulle op die betrokke verkoper se plaas gaan laai. Die risiko om diere aan te ry na ‘n veilingskraal word uitgeskakel. Geen koste word voor die veiling deur die verkoper aangegaan nie en indien die dier nie verkoop nie, word vervoerkoste gespaar.
Delport meen dit is 'n ideale wyse om handel te dryf, ook vir voerkrale. Dié veilings word deur GWK Veewinkel aangebied, 'n toep wat deur GWK Veilings Wildswinkel bekend gestel is. Hy sê GWK-agente, wat bekwaam is op dié gebied, het die onderskeie plase waarop diere gehou word, reeds besoek en die nodige foto's en videos van die diere is bekom. Daar is ook volledige inligting oor die diere op die toep beskikbaar.
Delport sê dit is ook vanjaar 'n groot eer om die hele kudde van een van die voorste Drakensberger-telers, wyle Edwin Scroeder, op die nasionale veiling aan te bied.
OFM-nuus
