Agri Hour
Drakensberger-genootskap hou aanlynveilings, registreer nou─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:09 Mon, 22 Jun 2020
Die Drakensberger-beestelersgenootskap het 'n bedrywige week wat voorlê.
Dit is dié genootskap se eerste nasionale stoetveiling wat aanlyn plaasvind. Daarmee saam word 'n speenkalwer-veiling ook vandag aanlyn aangebied. Dit word deur die nasionale stoetveiling Dinsdag gevolg. Jean van der Merwe, 'n raadslid van dié genootskap wat verantwoordelik is vir die reëlings rondom dié veilings, sê daar is nog tyd om vir vandag se speenkalwer-veiling, wat op die GWK-Veewinkeltoep aanlyn plaasvind, te registreer. Dié veiling open om 08:00 en daar sal tot omstreeks 12:00 geleentheid wees om te bie. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Van der Merwe gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê altesaam 288 bulletjies en 22 verse word op die speenkalwer veiling aangebied. Daar is altesaam sewe verkopers. Inligting oor die diere is op die GWK Veewinkel-toep beskikbaar. Hy sê al die diere wat aangebied word is suiwer Drakensbergers en dié genootskap het vertroue in die gehalte van dié beesras en veral in die diere wat aangebied word.
Hy sê dié aanlyn-stilveiling sluit Maandag om 12:00. Daarna vind dié genootskap se nasionale veiling Dinsdag plaas en duur tot Donderdag.
Op dié nasionale veiling word 15 stoetbulle van puik gehalte aangebied. Daar is ook agt vroulike stoetdiere en altesaam 21 kommersiële verse. Dit kon egter nog nie bevestig word of hulle dragtig is of nie. Daar is ook 51 kommersiële vroulike dragtige diere wat aangebied word. Hy sê ná die nasionale veiling is daar ook 'n uitverkoping van wyle Edwin Schroeder se Bollie-kudde.
Hy sê die afslaer, Deon Klopper, gaan op die laaste dag van die aanlynstoetveiling ook regstreeks praat oor die lotte wat aangebied is en kort opsommings verskaf. Dít in 'n poging om aan kopers en verkopers die geleentheid te gee om deel te wees van 'n direkte veilingsatmosfeer.
Laai die Veewinkel-toep af om deel te wees van die Drakensberger-genootskap se nuwe nasionale veilingsformaat. Van der Merwe sê kopers moet vooraf registreer. Vir meer inligting besoek dié genootskap se webtuiste.
Dit was Jean van der Merwe, 'n raadslid van die Drakensberger-telersgenootskap.
OFM-nuus
