Agri Hour
Misdaad 'n groot kopseer vir VS-boere langs Lesotho-grens─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:22 Wed, 24 Jun 2020
Misdaad en aanvalle op plase en kleinhoewes bly 'n bron van kommer vir die landboubedryf.
Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), sê daar het nou 'n groter probleem ontstaan vir Suid-Afrikaanse boere wat in die Vrystaat langs die Lesotho-grens boer. Lede van die Suid-Afrikaanse polisie word nou beperk om hul taak ten volle te verrig. Hulle mag nie in Lesotho werksaam wees nie, weens die Covid-19-inperkingsregulasies. Wilken sê Suid-Afrikaanse polisielede het nie toegang tot Lesotho om misdadigers aan te keer nie. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Wilken gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê daar is 'n bestaande goeie samewerkingsverhouding tussen georganiseerde landbou en die polise in die Vrystaat, maar dié uitdaging moet nou op nasionale vlak aangespreek word. Daarom het VL dié kwessie na Agri SA verwys sodat daar op nasionale vlak uitklaring gekry kan word. Hy sê daar word nou op die hoogste vlak aandag aan dié kwessie geskenk en oplossings moet nou gevind word, want veral veediefstal langs dié grens neem nou toe. Daarmee saam word plaastoerusting, voertuie en werktuie op plase wat aan Suid-Afrikaanse boere behoort, gebuit. Die oortreders is vermoedelik van Lesotho.
Hy sê die weermag is ontplooi op die grens om patrollering te doen, maar daar kan meer gedoen word om misdrywe te voorkom. Wilken meen daar moet beter samewerking wees tussen die weermag en die polisie.
Wilken sê die paraatheid van boere moet egter beklemtoon word, veral ná die aanval op 'n boer en sy geliefdes in Tweespruit. "Ons is georganiseerd binne die landelike beveiligingsplan," sê hy. In die Tweespruit-aanval is daar vinnig opgetree, en daar was suksesse ten opsigte van die inhegtenisneming van verdagtes. Dit toon duidelik dat die bestaande strukture wat in plek is, doeltreffend is. Meer mense moet egter daarby betrokke wees. Daar kan ook nie van boere verwag word om deurlopend verantwoordelik te wees vir hul eie veiligheid nie. Meer ondersteuning van die polisie en die weermag word benodig.
OFM-nuus
