Agri Hour
Dieseltekort vandag met Sapia bespreek─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:31 Wed, 24 Jun 2020
Boere in die sentrale binneland, asook in ander provinsies in die land, ondervind 'n tekort aan dieselvoorraad, en die situasie vererger nou.
Dr. Requier Wait, hoof van ekonomie en handel by Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid, sê dit is nie slegs in Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap waar boere tekorte ondervind nie. Meer provinsies in die binneland word geraak. Hy sê egter Agri SA vergader weekliks met die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfsvereniging, Sapia, oor kwessies met betrekking tot die brandstofbedryf. Wait sê Agri SA, asook verteenwoordigers van Graan SA (GSA) en die Landbousakekamer, Agbiz, vergader vandag met Sapia en dié tekorte sal na verwagting ook onder die loep kom. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat....
Sien onderstaande PODCAST
Volgens Wait was die aanvanklike rede vir dié dieseltekort in Suid-Afrika die strenger Covid-19-inperkingsmaatreëls. Dit was weens raffinaderye wat tydens dié tydperk van die strenger Covid-19-inperkingsmaatreëls gesluit was. Hy sê soos die Suid-Afrikaanse ekonomie weer oopgestel is, het daar 'n toename in die vraag na diesel ontstaan. Raffinaderye het weer begin met produksie, maar daarmee saam was daar toe die element van diefstal op die hoof Transnet-pyplyding van Durban na die binneland. Dit het daartoe bygedra dat daar 'n tekort aan diesel in die binneland ontstaan het.
Wait sê van Agri SA se kant af is al die hoofverskaffers van diesel, wat die landboubedryf voorsien, se inligting aan Sapia verskaf. Dit in 'n poging om toe te sien dat Sapia van sy kant af die impak van dié tekorte kan teenwerk.
Hy meen die verwagte styging in die brandstofprys op 1 Julie kan ook 'n bydrae lewer na 'n groter vraag na diesel, omdat boere hul dieselvoorraad wil aanvul voor dan. Daar ontstaan dus 'n groter vraag na diesel in die mark, wat ook ekstra druk op die stelsel plaas.
Dié ontwrigting kom egter nou op 'n slegte tyd met boere in die binneland wat tans volstoom aan die werk is om hul graanoeste te stroop, sê Wait.
OFM-nuus
