Agri Hour
Saai: SA bankrot gesteel en in 'n skuldkrisis─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Fri, 26 Jun 2020
Die skuldkrisis waarin Suid-Afrika hom bevind is 'n groot bron van kommer.
Dr. Theo de Jager, die direksievoorsitter van die netwerk vir familieboere, Saai, sê die verwagting dat Suid-Afrika se brutoskuld vanjaar tot R4000 miljard gaan styg, maak die primêre produksiebedryf diep bekommerd. Sy reaksie kom nadat die minister van finansies, Tito Mboweni, in sy nuwe aangepaste begroting die land se skuldlas goed uitgelig het. Dit is verder deur die Covid-19-pandemie vergroot. Daar word nou verwag dat die ekonomie vanjaar met 7,2% sal inkrimp. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met De Jager gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
De Jager vergelyk die situasie waarin Suid-Afrika homself bevind met 'n sinkende Titanic, waar daar stoele op dié skip se dek rondgeskuif word in 'n poging om die onvermydelike sinking te probeer verhoed.
Lekkasies in die sinkende Suid-Afrikaanse ekonomie moet eerder herstel word. Hy sê Suid-Afrika is in dié rampsituasie omdat die land primêr bankrot gesteel is uit die begroting en daar is nog steeds niks daaraan gedoen nie. Hy sê inkomste moet verhoog word sodat uitgawes gedek en skuld betaal kan word. Volgens hom kan dit gedoen word deur die besigheidsomgewing te stimuleer. 'n Beleidsomgewing moet geskep word waarin sakelui en entrepreneurs meer wins toon, sodat daar meer belasting deur die staat ingewin kan word.
Hy sê in dié stadium maak Suid-Afrika dié beleidsomgewing net meer bedompig. Dit raak nou moeiliker om besigheid te doen en om werk te skep, en die spiraal lyk in die stadium asof daar nie 'n oplossing is nie. Die kwessie van nypende armoede en honger moet gestuit word. Dit moet geskied veral in landelike gebiede, waar arm mense is.
Indien daar na die belange van die heel armstes in die land omsien kan word, dan word daar na die res van die bevolking se belange omgesien. Hy meen die armes in landelike gebiede is kleinskaalse boere en kosprodusente, maar ongelukkig sluit die wyse hoe daar gepraat word deur die regering oor grond en landbou, boerdery en die verspreiding van kos nie welvaartskepping in nie. Saai glo dié gemeenskappe kan self kos produseer en dit dan verkoop, om sodoende selfonderhoudend te wees.
Hy sê ná dié begroting besef boere net meer dat die fondasie, wat die kern van die land se herstel is, nog nie gelê is nie. Suid-Afrika bou nog op 'n fondasie met sand.
Volgens De Jager is daar nie 'n bedryf in die Suid-Afrikaanse ekonomie wat meer werksgeleenthede kan skep - oor 'n breër basis en weier verspreid oor die land heen in 'n korter tydperk - as die landboubedryf nie. Daar is egter voorwaardes daaraan verbonde. Boere is baie huiwerig om werksgeleenthede te skep en iemand in diens te neem as hulle nie weer van daardie persoon ontslae kan raak nie. Daarom moet dit makliker wees vir boere om mense aan te stel.
Dit kom nadat R100 miljard deur Mboweni beskikbaar gestel is vir werkskepping in die land. Dit sal oor etlike jare ingestel word met die land se werkloosheidsyfer wat reeds 30% is.
OFM-nuus
