Agri Hour
SA kan steeds rekord mielie-oes lewer ondanks uitdagings─── CHRISTAL-LIZE MULLER 07:00 Mon, 29 Jun 2020
'n Goeie mielie-oes word steeds verwag ondanks die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se jongste afwaartse aanpassing vir die verwagte kommersiële oes.
Die NOK het verlede week die vyfde produksieskatting vir somergraangewasse bekendgestel. Die grootte van die verwagte mielie-oes is 0,48% minder as die vorige skatting van 15,589 miljoen ton. Luan van der Walt, 'n landbou-ekonoom van Graan SA (GSA), meen dit staan egter nie in Suid-Afrika se pad nie. Die tweede grootste mielie-oes in die land se geskiedenis, gaan na verwagting steeds gelewer word. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat....
Sien onderstaande PODCAST
Van der Walt sê geelmielies is laer geskat as die vorige skatting. Dit is 1,16% laer op 6,439 miljoen ton. Witmielies se skatting is onveranderd. Dit het bygedra tot die totale geskatte mielie-oes van 15,513 miljoen ton. Hy meen dit is steeds 'n goeie oes en produsente is dankbaar daaroor. Van der Walt sê geelmielies is afwaarts aangepas en dit is weens die lewering daarvan wat tot nou stadig plaasgevind het. Die werklike lewering van geelmielies gaan nou eers met oesskatting en historiese syfers vergelyk kan word. 'n Kleiner aanpassing aan die geelmielie-oes is gemaak, maar oorhoofs meen Van der Walt goeie produksie vind plaas en gebiede lyk goed, terwyl die opbrengste ook goed is.
Die rede vir laat lewerings is tweeledig. In die oostelike gedeelte van die land, soos Mpumalanga en die Oos-Vrystaat, is daar later met aanplantings begin. Die hele seisoen word dan geraak. Dié seisoen was ten opsigte van laat reëns omgekeerd. Dit is gewoonlik die geval in die westelike produksiegebiede en nie in die oostelike gebiede nie.
Hy meen lewering is ook laat weens mielies wat in nat toestande nie voldoende afgedroog het nie. Dit het nog laat in die seisoen gereën en in die westelike produskiegebiede en selfs in die oostelike gebiede was dit te nat om met die stroopproses te begin. Dié proses het nie ten volle aan die gang gekom nie en daar is produsente wat met dieseltekorte opgesaal is.
Van der Walt meen graadprobleme met mielies bly maar een van die groot uitdagings. Met die goeie oes en die laat reëns het daar probleme rondom die gehalte van mielies in sekere gebiede voorgekom. Daar is 'n mate van kommer oor die graadprobleme, en boere lewer 'n goeie oes, maar die graad van dié mielie-oes is swakker, sê hy.
OFM-nuus
