Agri Hour
Saai tree toe tot stryd om tabakverbod op te hef─── CHRISTAL-LIZE MULLER 07:00 Mon, 29 Jun 2020
Die tabakbedryf in geheel, asook verbruikers van dié produkte, is 'n dubbele slag toegedien.
Dit kom nadat die Hooggeregshof in Pretoria bevind het Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), se tabakverbod is in orde. Die Fair Trade Tobacco Industry, Fita, se dringende aansoek om dié regulasies te verbied, was nie geslaagd nie. Daarmee saam sal 'n soortgelyke aansoek deur tien applikante, waarvan British American Tobacco South Africa (Batsa) die leiding neem, nou eers in Augustus vanjaar aangehoor word. Dit sou eerskomende Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor word. Saai, die netwerk vir familieboerderye, is een van die applikante wat die hofgeding teen Dlamini-Zuma, die president en die nasionale Covid-19-bevelsraad, dryf. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Rossouw sê met dié aansoek word gepoog om Artikel 45 van die vlak drie Covid-19-regulasies ongrondwetlik en ongeldig te laat verklaar. Dit is noodsaaklik dat sigarette en tabakverwante produkte verkoop word.
Saai verteenwoordig boere en plaaswerkers wat nou in 'n krisis gedompel is weens dié verbod op tabakhandel as deel van die nasionale strategie om Covid-19-te bestry.
Hy sê Dlamini-Zuma skoei haar verdediging op twee bene en voer aan daar sal onnodige druk op die land se gesondheidstelsel geplaas word indien sigarette verkoop sou word. Die regering voer aan rokers ervaar Covid-19 veel erger as nie-rokers, en met 8 miljoen rokers in Suid-Afrika sal die gesondheidstelsel druk ervaar. Rossouw meen die werklike toets in dié verband is of dié verbod noodsaaklik is om die aantal Covid-19 gevalle te beperk, en of tabakverwante produkte se verkope daartoe bydra. In sy mening is dit waar Dlamini-Zuma faal met dié verbod.
Die tien applikante verteenwoordig 'n wye spektrum oor die hele waardeketting. Saai verteenwoordig familieboere en hul werknemers met sowat 10 000 families in die landboubedryf wat van tabakboerderye afhanklik is. Dié boere het verlede jaar groot insetkoste en kapitaalbeleggings gedoen en hulle het boonop werknemers om te onderhou en is nou in die diepkant gegooi, omdat hulle nie 'n afset vir hul produk het nie. Tabak kan nie verkoop word nie. Dit is waarom Saai besluit het om betrokke te raak.
Hy sê baie van dié boere se tabak is nou in pakhuise, terwyl die tabak se gehalte afneem. Die hele waardeketting moet nou oopgestel word. Daar is talle kleinboere in die informele sektor wat hierop staatmaak. Hy sê hulle pas gewoonlik wisselbou toe om ander gedeeltes van hul boerdery te finansier, wat nou daartoe lei dat hulle al dieper in 'n geldelike krisis verkeer.
OFM-nuus
