Agri Hour
Voedselsekerheid in gedrang weens dieseltekorte─── CHRISTAL-LIZE MULLER 07:00 Mon, 29 Jun 2020
Agri SA is diep bekommerd oor die tekort aan diesel, wat boere nou in die binneland kniehalter.
Dringende optrede van die regering in dié verband word nou geëis, omdat dié tekorte voedselsekerheid bedreig. Christo van der Rheede, dié organisasie se adjunk-uitvoerende direkteur, sê graanboere is nou volstoom met die stroopproses aan die gang. Ander boere oes nou gewasse en voer hul produkte op groot skaal uit. Sonder diesel kan dié boere nie voortgaan met hul bedrywighede nie. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Van der Rheede gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê boere sit nou met hul hande in hul hare, want hulle kan nie dieselvoorraad bekom nie. Daarmee saam is 'n marginale styging in die prys van diesel nog 'n probleem. Daar is voldoende dieselvoorraad volgens die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfsvereniging (Sapia) in die Durbanse hawe beskikbaar. Die groot probleem is egter die sabotasie van die pyplyding van Durban na Johannesburg. Van der Rheede verwys na 'n verslag wat hy onder oë gehad het. Daarin word verwys na grootskaalse diefstal naby Secunda en Kendal waarby na bewering georganiseerde sindikate moontlik betrokke is. Die pyplyding word gevandaliseer om toegang tot die diesel te verkry. Hy sê die verslag toon ook dié voorvalle vind op 'n gereelde grondslag plaas. Dít laat die vraag ontstaan waarom die polisie nie optree daarteen nie.
Van der Rheede sê Agri SA het nou kragte saamgesnoer met Transnet om boere op wie se plase die pyplyding geleë is, aan te moedig om paraat te wees en enige voorvalle van dié aar by die polisie aan te meld indien misdrywe op hul plase plaasvind, veral ten opsigte van die vandalisering van die pyplyding. Daar was voorvalle waar die polisie wel opgetree het en booswigte is in hegtenis geneem.
Intussen word diesel weens dié voorvalle nou in Mosselbaai in die Wes-Kaap afgehaal, en daarom is daar nou ook 'n styging in die prys van diesel, sê hy. Dié dieselvoorraad word nou met vragmotors vervoer, ook van die Durbanse hawe.
Volgens hom word Eskom ook geraak, omdat dié nasionale kragvoorsiener self afhanklik is van dieselvoorraad om hul onderskeie kragsentrales aan die gang te hou. Dieseltekorte kan groter probleme inhou ten opsigte van beurtkrag.
Van der Rheede sê hier is 'n reuse-krisis aan die ontwikkel. Daar word nou 'n ernstige beroep op die regering gedoen om die polisie en die weermag in te span om dié pyplyding te beveilig.
Daarmee saam het diefstal oor die algemeen 'n geweldige groot toename op plase getoon weens die hoë vlakke van armoede en hongersnood.
OFM-nuus
