Agri Hour
#Nampo2020: Virtuele platform vervang ware Jacob─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Wed, 01 Jul 2020
Die grootste landboubyeenkoms in Afrika, wat vanjaar vanaf 11 tot 14 Augustus op Nampopark buite Bothaville in die Vrystaat sou plaasvind, is gekanselleer.
Dit beteken egter nie dat uitstallers en boere steeds die beste daarvan kan geniet nie. Graan SA (GSA) se gewilde Nampo-oesdag word vanjaar virtueel aanlyn aangebied. Toit Wessels, assistent-bestuurder van bemarking by Graan SA (GSA), en bestuurder van die Nampo-oesdag, sê dit was 'n groot teleurstelling vir besluitnemers om dié 54ste oesdag, wat talle betrokkenes in landbou jaarliks byeenbring, weens die Covid-19-pandemie te kanselleer. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê organiseerders het alles in hul vermoë gedoen om dit fisies aan te bied, maar omstandighede het dit onmoontlik gemaak. Daarom word daar nou eerder gefokus op die virtuele aanbieding in September en volgende jaar se Nampo-oesdag.
Volgens hom is hulle diep teleurgesteld dat graanprodusente, boere, die breë publiek, nie dié geleentheid vanjaar kan bywoon nie, maar die virtuele aanbieding sal opmaak daarvoor.
Dié besluit is geneem nadat die bestuur van Nampo 'n voorlegging gedoen het en GSA se dagbestuur Maandagaand die finale besluit geneem het. Hy sê dié besluit is geskoei op die veiligheid van mense en GSA se verantwoordelike optrede wat genoodsaak word. Daar is tydens die besluitneming aangevoer dat 'n byeenkoms van dié aard eers in vlak 1 van die Covid-19-inperkingsregulasies, aangebied kan word. Die tyd het egter uitgeloop en 'n finale besluit moes geneem word. "Dit is vir ons hartseer, want daar gaan nou geen pannekoek en sosaties wees nie."
Hy sê die goeie nuus is egter dat 'n virtuele Nampo 2020 nou aangebied word en hy gee sy versekering dat dit op 'n professionele grondslag sal geskied. Die tema vir dié geleentheid, wat van 9 tot 12 September aanlyn plaasvind, is 'Vind jou 2020 Agri-visie'. Dit is 'n heel gepaste tema veral met die oesdag wat nou virtueel aangebied word. Dit gaan opwindend en innoverend wees, met boere, verskaffers en ander betrokkenes wat toegang sal hê tot hul gunsteling-uitstallers en 'n magdom aanlyn-inhoud van die bedryf.
Wessels sê daar is talle uitstallers wat aangedui het dat hulle belangstel. Brand Republic, wat die gewilde Nasie in Gesprek jaarliks op Nampo aanbied, is 'n vennoot in die virtuele aanbieding. Dié platform gaan beskikbaar wees met uitgebreide vertoonure daagliks vanaf 09:00 tot 19:00. Dit sluit dan op Saterdag, 12 September om 14:00. Besoekers kan via hul voorkeurtoestel inskakel met ‘n internetblaaier, hetsy dit nou 'n selfoon, tablet of rekenaar is. Daar kan direk met uitstallers gekommunikeer word. Aanlyn-aankope kan gedoen word met aflewering. Hy sê organiseerders het vooraf hul huiswerk gedoen en dit dui daarop dat daar redelik baie uitstallers is wat belangstel om deel te wees van die virtuele Nampo-ervaring. Daarmee saam is dit ook 'n fraksie van die koste wat deur uitstallers aangegaan sou word op die fisiese oesdag. Wessels meen uitstallers is daarom honger om aan die virutele Nampo-oesdag deel te neem. Hulle kan hul produkte ten toon stel, terwyl baie van die uitstallers reeds voorraad beskikbaar het wat hulle op die oesdag in September sou aanbied.
Hy sê die veeafdeling gaan beslis deel van die virtuele aanbieding wees. So ook die vroue uitstallers en die deli, wat beskikbaar gaan wees aanlyn in die vorm van denkbeeldige sale wat geskep is.
Dit was Toit Wessels, bestuurder van die Nampo-oesdag, slegs op OFM. Intussen het Graan SA (GSA) ook aangedui dat hy in gesprek is met sy vennote van Nampo Kaap en die Nampo Alfa Lewendehawe, Jag en Buitelewe skou wat nie kan plaasvind, soos oorspronklik aangedui is nie. Die uitslag van dié samesprekings sal op 24 Julie bekendgemaak word. Die datum wat oorweeg word vir Nampo Kaap is van 24 tot 26 September en vir die Nampo Alfa Lewende hawe, Jag en Buitelewe skou is dit van 29 tot 31 Oktober.
OFM-nuus
