On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agri Hour

NK-plaaswerker loof sy Skepper vir welkome reën

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 05:30 Tue, 07 Jul 2020

NK-plaaswerker loof sy Skepper vir welkome reën | News Article
FOTO: Agri Noord-Kaap

'n Plaaswerker van die Hopetown-distrik in die Noord-Kaap dank die Here vir die reën wat vroeër vanjaar 'n groot mate van verligting vir boere in droogtegeteisterde gebiede in dié provinsie gebring het.


Willem Kgomotshwane sê in 'n roerende klankgreep wat hy aan OFM-nuus gestuur het, hy is dankbaar vir dié reën in Februarie en Maart vanjaar. Kgomotshwane, van die plaas Smousdam wat deur dr. Stoffel du Toit besit word, sê droogtetoestande verlede jaar was reusagtig groot, maar danksy weldoeners se mildelike skenkings van veevoer en ander produkte is die wa deur die drif getrek. Hier is Kgomotshwane...


Sien onderstaande PODCAST


Hy bedank elke boer en weldoener wat veevoer geskenk het aan boere  wat swaar gebuk gegaan het onder dié droogtetoestande, vir hul goedhartige skenkings.  Kgomotshwane sê daar was boere wat vragmotorvragte vol veevoer aan hul medeboere beskikbaar gestel het.  Daarmee saam is daar groot dankbaarheid van boere in dié provinsie, wat in Oktober en November verlede jaar rypskade aan hul koringgewasse gehad het en van dié oeste afhanklik was vir veevoer vir hul diere wat swaar gely het, teenoor dié boere wat voer beskikbaar gestel het. Die rypskade het verdere druk op boere se kontantvloei geplaas, maar hulle het nieteenstaande steeds na ander uitgereik wat in groot nood verkeer het. Kgomotshwane gee alle dank daarvoor aan die Hemelse Vader.  

Hy sê sonder dié waardevolle veevoerskenkings sou die situasie ten opsigte van die reuse impak van die droogte veel erger daarna uitgesien het. Kgomotshwane meen indien die droogte voortgeduur het en reën nie vroeër vanjaar in die somerreënvalgebiede voorgekom het nie, tesame met die  Covid-19-pandemie,  sou die situasie vererger het. 

Kgomotshwane glo vas dat soos die Here verligting in terme van skenkings en reën in droogtegeteisterde gebiede van die Noord-Kaap voorsien het, sal Hy ook 'n uitkoms gee vir gemeenskappe wat nou swaartrek weens die Covid-19-pandemie.


OFM-nuus


Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.