Agri Hour
Boere in Namakwaland juig oor reën─── 05:30 Tue, 14 Jul 2020
Talle landbougemeenskappe in die Noord-Kaap juig oor die afgelope naweek se goeie reën in dié provinsie se winterreënvalgebiede.
Daarmee saam is daar groot hoop dat nog 'n kouefront, wat reeds 'n stewige greep in die binneland het, nóg reën sal bring. Danie Jacobs, voorsitter van Agri Namakwaland, sê daar is waarlik groot dankbaarheid vir dié reën, want daarsonder sou boere nie kon voortgaan met hul bedrywighede nie. Landbougemeenskappe trek steeds swaar en diere word gevoer, omdat die voortslepende droogte sy tol op natuurlike weiveld geëis het. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met 'n blymoedige Jacobs gepraat....
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê dit is nie slegs mense wat deur die droogte geraak word nie, maar diere kry ook swaar en boere is steeds genoop om hul diere te voer. Jacobs meen egter ná die goeie reënval van die naweek glimlag boere nou wanneer hulle hul diere voer.
Opvolgreën is nou broodnodig, maar boere het 'n huppel in hul stap weens reënvalsyfers wat goed daarna uitsien in Namakwaland. In die Garries-gebied het dit tussen 25mm en 50mm oor die naweek gereën. In die Kammieskroon-gebied het tussen 40mm en 60mm reën geval en Springbok het meer as 50mm reën gehad. In die Kleinsee-gebied oftewel die Sandveld het dit 30mm gereën. Jacobs sê met vorige kouefronte wat oor dié provinsie beweeg het, het dit in die Garries-gebied gemiddeld reeds 70mm gereën sedert Junie.
By Kammieskroon was die gemiddelde reënval in dié tydperk 100mm en in die Springbok-gebied is die gemiddelde reënval sowat 90mm. In die Sandveld-gebied is die gemiddelde reënval sowat 50mm.
Hy sê boere kan nie genoeg dankie sê vir dié reën nie. Die veld moet egter nou herstel en dít gaan 'n lang proses wees. Die skok gaan groot wees as daar presies vasgestel word hoeveel natuurlike bosse in die veld weens die droogte gevrek het. In Jacobs se mening is sowat 50% van dié bossies in die veld, wat noodsaaklike ruvesel vir diere in winterreënval-gebiede in somermaande is, nou nie meer daar nie. Dit is uitgedor. Jacobs het op sy plaas by Aggeneys die afgelope naweek tussen 6mm en 12mm reën gehad. Met die vorige kouefront wat deur dié gebied beweeg het, het Jacobs tussen 10mm en 12mm reën op sy plaas gemeet. Volgens hom was dit die eerste goeie reën wat hy op sy plaas in die afgelope vyf jaar gemeet het. Dit is die eerste keer in dié tydperk waar hy kon sê sy hele plaas het reën gehad. Hy sê dit is 'n aansienlike verbetering op verlede jaar se reënval van slegs 5mm, wat hy deur die hele jaar op sy plaas gemeet het. Hy het vanjaar reeds 'n "allemintige" 46mm reën gehad.
Reën in die Namakwaland en ander droogtegebiede in die Noord-Kaap lig boere se swaarmoedigheid en vir 'n oomblik is die koöperasierekening en die voerrekening nie van belang nie, al wat deur boere se gedagtes gaan is dankbaarheid vir die reën en lof aan die Hemelse Vader, sê Jacobs.
OFM-nuus
