Agri Hour
Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Thu, 16 Jul 2020
Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Christal-Lize Muller met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê die Covid-19-pandemie bly 'n verwoestende ontwrigter en hoewel Suid-Afrika se koers van besmetting heelwat laer is as die internasionale tendens, het die jongste verloop van die pandemie die regering genoodsaak om sekere vergunnings strenger te maak.
Laubscher sê daar was onbedoelde gevolge wat dermate 'n impak het op die gesondheidsdienste gehad het, en daartoe gelei het dat sekere inperkings weer van krag is. Ander lande is ook in die proses om sekere beperkings weer in te stel in afwagting op ‘n opvolg-besmetting, maar ten beste bly die verloop van die pandemie ontwrigtend en onvoorspelbaar.
Hy meen die afwesigheid van enige sigbare bewyse van mense wat sterf, is volgens sommige kenners ‘n faktor wat bydra tot onverskilligheid. Tensy ‘n naasbestaande of kennis 'n slagoffer is of was, steur té min van dié mense hulle aan die feitelike toedrag van sake ten opsigte van beskikbare gesondheidsdienste soos hospitaalbeddens, en die blootstelling van gesondheidswerkers. Die debat oor wat nodig is in terme van inperkings en vergunnings bly onversadig.
Die Wêreld Ekonomiese Forum het ‘n verslag bekendgestel en belig ‘n aantal kritieke aspekte van dié pandemie waarvan daar gerus kennis geneem kan word. Dit sluit in die rol van die media in die balansering van wat die publiek benodig in terme van kritieke inligting enersyds en die belange van besighede. Met 'n pandemie van hierdie omvang is die bronne van betroubare inligting krities en die media se rol as agendabepaler kan nie onderskat word nie. Sensasie is net so gevaarlik soos vals nuus en die vraag is wie watter toegang het tot die regte inligting. Hy meen een van die media se grootste uitdagings is om die geloofwaardigheid van die wetenskap betrokke by die pandemie te help beskerm. Dit is egter nie ‘n maklike taak nie, want vanweë die aard en omvang van hierdie “nuwe” siekte is baie gedwing tot 'n onbekende leerkurwe.
Die reaksie op beskikbare feite en herstel is ook belangrik. Daar heers nou ‘n hewige debat oor die groter oopstel van die ekonomie en woeste beskuldigings word oor en weer tussen die private sektor en die staat geslinger. Tans lyk dit of doelwitte strategies meer konvergeer – nader aan mekaar kom - maar met die jongste opskorting van drankverkope het bewysbare katastrofiese gevolge vir die wynbedryf alleen.
Dit was die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, slegs op die Agri-Uur. Om na insetsels te luister gaan na http://www.ofm.co.za, kliek op News, Agriculture en die Agri-Hour. Skakel ook weeksdae in om 11:00 en 13:30 vir jou landbounuusbulletins, slegs op OFM.
OFM-nuus
