Agri Hour
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Tue, 21 Jul 2020
Hierdie verslag is deur Graan SA (GSA) verskaf.
Die Amerikaanse mieliemark is hoofsaaklik onder druk met die internasionale energiepryse wat weer onder druk is weens die nuwe vlaag koronavirus-infeksies wat wêreldwyd aangekondig word.
Die weerstoestande in die VSA was oor die naweek hoofsaaklik warm en droog, wat 'n impak kan hê op die opbrengspotensiaal in die VSA.
Die plaaslike mieliemark het gister meestal onder druk gekom en het laer verhandel vir die dag in meeste van die kontrakmaande wat tans gelys is van wit en geelmielies.
Die witmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R7/ton laer verhandel vir die dag om teen R2 554/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2020 R5/ton laer verhandel om teen R2 636/ton te sluit.
Die Amerikaanse sojaboonmark vind ondersteuning by die groot vraag na uitvoer wat tans in die internasionale mark gesien word.
Die Amerikaanse sojaboon-oliemark verhandel sterker, terwyl die sojaboon oliekoekmark onder meer druk is.
Die plaaslike sojaboonmark het gister meestal ondersteuning gevind en het sterker verhandel vir die dag in meeste van die kontrakmaande wat tans gelys is.
Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Julie 2020, R76/ton hoër verhandel vir die dag om teen R6 860/ton te sluit.
Die Amerikaanse koringmark is ook onder druk weens die onsekerhede rakende die internasionale koronavirus-gevalle.
Die verliese in die Amerikaanse mark is beperk deur die swakker Amerikaanse dollar.
Die plaaslike koringmark het gister meestal ondersteuning gevind en het sterker verhandel vir die dag in meeste van die kontrakte wat tans gelys is.
Die plaaslike koringmark het vir lewering in Julie 2020, R204/ton hoër verhandel om teen R6 000/ton te sluit.
