On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agri Hour

#Covid19-drankverbod 'n dilemma vir graanprodusente

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Wed, 22 Jul 2020

#Covid19-drankverbod 'n dilemma vir graanprodusente | News Article
FOTO: Graan SA- tydskrif

Die gevolge van die regering se jongste verbod op die handel van drank, te midde van die Covid-19-pandemie, is groot vir die landboubedryf en die waardeketting in geheel.


Dit is volgens dr. Dirk Strydom, hoof van graan ekonomie en bemarking by Graan SA (GSA), wat meen dit het 'n impak op produkte wat gedistilleer en verwerk word. Hy sê dit sluit in druiwe, sekere grane en selfs aartappels. Die verbod het met betrekking tot graangewasse 'n invloed op die vermoutingsproses. Veral gars en sorghum word geraak. Weens die verbod kan vermouting nie plaasvind nie, en gars kan nie opgeneem word nie. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom Strydom gepraat... 


Sien onderstaande PODCAST


Dit kom nadat garsprodusente in die Wes-Kaap hul aanplantings afgehandel het ondanks die begin van die seisoen. Hy sê die vraag ontstaan nou wat gebeur in terme van oorskotvoorraad, omdat daar nie 'n vraag in die sisteem is nie.

Hy meen alle produsente word geraak, terwyl baie van die maatskappye opkomende boere in programme ondersteun. Daardie produsente gaan ook nie meer ondersteuning kry van dié verwerkingsmaatskappye nie, omdat hulle ook nie 'n inkomste verdien nie. Dit is daarom 'n moeilike situasie en die Suid-Afrikaanse landbou word meer onder druk geplaas. Veral die garsbedryf kom juis nou uit 'n uitdagende jaar in terme van droogte. Hulle het ook verlede jaar uitdagende produksietoestande gehad, veral omdat baie van die gars se graad nie vir moutdoeleindes gekwalifiseer het nie.  Daar was groot verliese en die geldelike sisteem is  onder druk in dié wintergraangebiede met oordragskuld wat hulle knou.

Strydom sê daar is ook ontevredenheid oor die regering se vinnige besluit oor die drankverbod, terwyl die graanbedryf sedert Maart vanjaar angstig wag vir die regering se afkondiging van 'n invoertarief vir koring. Dié invoertarief is juis daar om plaaslike produsente te beskerm teen die goedkoop invoer van koring. Dit beskerm Suid-Afrika teen lande wat hoë subsidies vir koringproduksie ontvang, terwyl daar plaaslik geen subsidies daarvoor verskaf word nie. Daarom verskaf dié invoertarief hulp aan Suid-Afrika om die plaaslike prys te stabiliseer. Dié tarief is gegrond op 'n formulebasis wat saamgestel is om nie 'n direkte impak op die verbruiker te hê nie. Daar is nou groot wisselvalligheid in die plaaslike koringbedryf en talle spekulante het die bedryf juis daarom verlaat.  

Volgens Strydom sal daar ernstig met die regering in gesprek getree moet word oor dié drankverbod sodat 'n oplossing gevind kan word. Daar moet ten minste maatreëls in plek gestel word om produsente in dié verband te ondersteun. Georganiseerde landbou gaan intussen ook 'n oplossing moet kry om die oorskotvoorraad wat beskikbaar gaan word, deur die sisteem te kry sodat bedrywe weer vinnig kan herstel.


OFM-nuus

 


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.